Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stick het nie verwag Branco ‘gaan hou’

Daar was ’n tyd dat Branco du Preez se mede-Blitsbok-spelers nie gedink het hy gaan die span se strawwe oefensessies oorleef nie.

Die Blitsbokke se Branco du Preez word in 2010 beetgekry deur die Fidjiaan Jiuta Lutumailagi in Wellington. Dit was Du Preez se eerste toernooi vir die Blitsbokke. Foto: Getty Images

Du Preez (29) word die naweek die mees ervare Blitsbok van alle tye in die Wêreldreeks-sewestoernooi in Londen. Dan sal dié boorling van George in die Suid-Kaap in sy 70ste toernooi speel, nadat hy sy buiging vir die Suid-Afrikaanse sewesspan in 2010 in Wellington, Nieu-Seeland, gemaak het.

Tog sê Mzwandile Stick (34), ’n hulpafrigter van die Springbokke, wat die Blitsbokke se kaptein was toe Du Preez sy debuut gemaak het, hy was in ’n stadium bekommerd oor hom.

“Ek onthou nog toe Branco by ons begin oefen het. Hy was nog baie jonk en die oefensessies was baie straf. Hy het aanvanklik gesukkel en ek het gedink hy gaan nie kan uithou nie.

“Maar tipies in die gees van die Blitsbokke het die ouens hom opgetel en na hom gekyk en hom deurgetrek,” sê Stick.

Jacques Juries, Griffons se afrigter, onthou dat Du Preez reeds as skoolkind ’n gedissiplineerde speler was, wat bereid was om die ekstra myl te stap.

Mzwandile Stick in sy speeldae vir die Blitsbokke. Foto: Getty Images

Dit was hy wat Du Preez destyds in George raakgesien en hom na die Harmony-sportakademie in Virginia in die Vrystaat gelok het.

“Branco was reeds op laerskool ’n baie goeie rugbyspeler. Ek het hom geken omdat ons verlangs familie is. Toe hy in die hoërskool (PW Botha-kollege in George) was, het ek in die Suid-Kaap na een van sy wedstryde gaan kyk. Ek het gesien hy skop en verdedig baie goed,” sê Juries, wat destyds die Harmony-sportakademie se rugbyafrigter en talentwerwer was.

“Ek het sy ma-hulle (Pieter en Maryna) op die plaas gaan sien en gevra of ons hom na die akademie kan neem.”

Destyds het rugbyspelers wat aan die Harmony-akademie verbonde was, skool gegaan aan die Hoërskool Hentie Cilliers in Virginia. Dit was dan ook hier wat Du Preez sy gr.11- en gr.12-skooljaar voltooi het.

“Ek het altyd geweet Branco sal dit maak. Sy dissipline was baie goed en boonop was hy baie toegewyd en altyd bereid om iets ekstra te doen.

“Dit is wat jy nodig het. Ek het al met baie spelers gewerk wat baie talent het, maar nie enige dissipline het nie. Branco was op ’n baie jong ouderdom reeds baie volwasse,” sê Juries.

Du Preez, wat die Griffons in 2007 en 2008 in die Cravenweek-toernooi verteenwoordig het, is nie die enigste Blitsbok wie se pad deur die Harmony-sportakademie geloop het nie. Ook Seabelo Senatla en Cecil Afrika is produkte van dié akademie.

Du Preez het sedert sy debuut in 2010 reeds 1 253 punte opgestapel in die 350 wedstryde waarin hy in aksie was.

Chris Coetzee, Harmony-akademie se bestuurder, sê by navraag “ek sit nou juis en kyk na ’n foto van Branco-hulle”.

“Ons het Branco aan die einde van sy gr. 10-jaar daar (in die Suid-Kaap) raakgesien en hierheen gebring. Wat my van hom opgeval het is dat hy vasberade was en gedissiplineerd was.

“Om op die ouderdom van 16 of 17 jou mense agter te los om ’n droom te volg, sê nogal baie. Hy het egter nie net aan sy rugby baie aandag gegee nie, maar ook aan sy akademie, want hy het geweet dit is hoe hy ’n kontrak by ’n unie gaan kry. Wat my betref, het hy van jongs af die regte karakter gewys,” sê Coetzee.

Branco du Preez in April in aksie in die sewestoernooi in Singapoer. Foto: Getty Images

Ná skool is Du Preez na Pretoria, waar hy vir die Tshwane Universiteit vir Tegnologie uitgedraf en ook die Blou Bulle op junior vlak verteenwoordig het. Kort daarna is hy deur Paul Treu, destyds die Blitsbokke se afrigter, nadergetrek.

* Suid-Afrika, wat in 2018 die naaswenner in Londen was, begin sy aanslag op die titel Saterdag teen Japan om 12:20.

Daarna volg Kanada (15:26) en Argentinië (18:32).

* Die wedstryde word regstreeks op SS 7 uitgesaai.

Meer oor:  Mzwandile Stick  |  Branco Du Preez  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.