Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stick-hulle maak harte oop vir Kings
Die Springbok-hulpafrigter Mzwandile Stick is dankbaar vir die geleenthede wat hy by die Southern Kings gekry het. Foto: Gallo Images

Die Springbokke se agterlyn-afrigter, Mzwandile Stick, het ’n gesogte rugbytrui geskenk vir ’n veiling wat ten bate van die spelers van die Southern Kings, wat hul werk verloor het, gehou gaan word.

“Ek is vandag wie ek is danksy die geleenthede en die grondslag wat ek by die Southern Kings gekry het. Ek weet ons gaan almal deur taai tye, maar wat julle ouens deurgaan is pynlik,” sê Stick in ’n video op Care4Kings se Facebookblad.

Care4Kings hou Vrydag en Saterdag aanlyn ’n veiling waar meer as 150 items te koop sal wees.

Die daaropvolgende naweek volg ’n veiling waar wyn en nog rugbygedenkwaardighede te koop sal wees.

Die fondse wat ingesamel word, sal onder die spelers en beamptes van die Kings, wat skielik sonder werk sit ná die franchise se likwidasie, verdeel word.

Die trui wat Stick skenk, is ’n Springbok-trui met die handtekeninge van verlede jaar se Wêreldbeker-wenners daarop.

Mzwandile Stick het hierdie trui geskenk ten bate van die Southern Kings se spelers en beamptes wat deur die likwidasie geraak word. Foto: Facebook

Stick, ’n voormalige kaptein van die Blitsbokke, was in 2016 een van die Kings se hulpafrigters.

Volgens Braam van Straaten, een van die dryfkragte agter die fondsinsameling, het verskeie bekende Springbokke aandenkings geskenk om opgeveil te word.

Die voormalige Bok-agtsteman AJ Venter het onder meer ’n Haaie-trui geskenk waarop ander bekende Bokke soos Bismarck du Plessis, Butch James en Bob Skinstad se handtekeninge pryk.

Ander skenkers sluit in Robbi Kempson (’n oud-Bokstut en tot onlangs die Kings se waarnemende afrigter), die oud-Bokhakers Tiaan Liebenberg en Danie Coetzee, asook Van Straaten self. Van Straaten, wat in 21 toetse vir die Bokke gespeel het, was die Kings se skopafrigter.

• Besoek Care4Kings se Facebookblad vir meer inligting oor die veiling, asook om na video’s te kyk waarin onder andere Stick, Venter en die voormalige Bok-losvoorspeler Rob Louw hul steun aan die projek gee.

AJ Venter was op sy dag ’n ware vuurvreter op die rugbyveld. Venter het ook sy steun aan die fondsinsamelingsprojek ten bate van die Kings toegesê. Foto: Gallo Images

Meer oor:  Myplayers  |  Eugene Henning  |  Mzwandile Stick  |  Kings  |  Braam Van Straaten  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.