Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stonehouse doen inkopies in Baai
Erich Cronjé sit vroeër vanjaar af op ’n lopie gedurende ’n kragmeting tussen die Southern Kings en Cheetahs in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Twee spelers van die Kings, Erich Cronjé en Ig Prinsloo, het nou ’n tuiste by die Pumas gevind – minder as ’n week voor die begin van die Superrugby Unlocked-reeks.

Die 23-jarige Cronjé, ’n senter, en Prinsloo (23), ’n voorryman, sal waarskynlik nie die naweek reeds by die diepkant ingegooi word teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein nie.

Die geleentheid om vir die Pumas te speel is natuurlik soos manna uit die hemel vir Cronjé-hulle, wat nog tot onlangs by die Kings gekontrakteer was. Nadat die span van die Oos-Kaap onlangs in likwidasie geplaas is, het dit baie spelers sonder ’n heenkome gelaat.

Natuurlik het ek gehoop dat ek iewers ’n geleentheid sal kry, die belangrikste was net dat ek fiks en reg is as dit wel gebeur.
Erich Cronjé

“Ek het gister (Maandag) begin en is baie opgewonde oor die nuwe geleentheid. Natuurlik het ek gehoop dat ek iewers ’n geleentheid sal kry, die belangrikste was net dat ek fiks en reg is as dit wel gebeur,” sê Cronjé.

Hy het aan die Hoërskool Dr. E.G. Jansen aan die Oos-Rand gematrikuleer, voordat hy hom by die Blou Bulle aangesluit en ook vir Tuks in die Varsitybeker-reeks uitgedraf het. Nou hoop hy egter om die Laevelders te help om goeie rekenskap van hulself te gee.

“Toe ek in 2019 die geleentheid gekry het om by die Kings te speel, het ek gedink dit is ’n goeie kans om ervaring op te doen. En dalk selfs later oorsee te speel. Die Kings was net goed vir my en ek sou graag langer daar wou gespeel het,” sê Cronjé.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas. Foto: Gallo Images

“Ek is ’n spanman, so ek sal graag wil sien dat ons goed vaar en dalk die halfeind haal. Mense dink altyd die Pumas is een van die klein unies, maar hier is baie goeie spelers en die manier hoe dinge gedoen word, is baie professioneel.”

Prinsloo het aan Grey-kollege gematrikuleer en in 2014 vir die Suid-Afrikaanse Skolespan uitgedraf.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, vertel dat Vrydag se oefenwedstryd teen die Leeus in Johannesburg hom weer bewus gemaak het van ’n paar ou rugbywaarhede. Die Johannesburgers het dié kragmeting met 33-5 gewen.

“Ons het ’n goeie eerste helfte gehad, hoewel ons lynstane nie watwonders was nie. Toe is Marné (Coetzee, stut) egter beseer en het ons swaar geleef in die tweede helfte in die faset.

“Ek het net weer besef hoe belangrik dit is om goed in die vaste fasette van die spel te wees.”

Behalwe Coetzee, wat sy arm gebreek het, sal die slot Pieter Jansen van Vuren ook nie vir die kragmeting met die Cheetahs oorweeg kan word nie. Hy het las van ’n ribbesering en was ’n aanspraakmaker om die Laevelders in die Rosestad aan te voer.

Meer oor:  Jimmy Stonehouse  |  Port Elizabeth  |  Mpumalanga  |  Kings  |  Curriebeker  |  Inkopies  |  Rugby  |  Unlocked-Reeks  |  Pumas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.