Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stonehouse bly oor Willie se terugkeer

Ná ’n tydjie by die Stormers is Willie Engelbrecht terug by die Pumas. Hy sal straks reeds hierdie week ’n geleentheid kry om Jacques Nienaber, afrigter van die Springbokke, stof tot nadenke te gee.

Engelbrecht (28), ’n losvoorspeler, het as leenspeler vir die Kapenaars in die Reënboogbeker-reeks diens gedoen, maar sweet weer in Mbombela.

Willie Engelbrecht tydens ’n oefensessie van die Stormers in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Die eerste skote in vanjaar se Curriebeker-reeks klap Vrydag, wanneer die Pumas en Leeus mekaar in die Laeveld pak.

Vir Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, is Engelbrecht se terugkeer soos manna uit die hemel. Dit ondanks die feit dat hy vele opsies het wanneer dit by die kies van sy lostrio kom.

“Uit die aard van die saak is ons baie bly dat Willie terug is. Hy bied ons ’n ekstra opsie in die lynstane, maar dit gaan ook oor sy teenwoordigheid op die veld,” sê Stonehouse.

“Ek dink hy was baie naby daaraan om die Bok-groep (vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus) te haal en dit was beslis vir hom ’n teleurstelling dat hy dit nie gemaak het nie. Maar hy weet nou aan watter aspekte van sy spel hy nog moet werk.”

Stonehouse kan sy lostrio saamstel uit spelers soos Engelbrecht, Kwanda Dimaza, Francois Kleinhans, Daniel Maartens, Ewart Potgieter en Phumzile Maqondwana.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas. Foto: Gallo Images

Die Pumas het ook die dienste bekom van die oud-Bul Jade Stighling, ’n veelsydige agterspeler wat senter of vleuel kan speel.

Stighling (28), wat die Pumas ekstra slaankrag op die aanval sal gee, het vroeër vanjaar ’n draai by die nasionale sewesakademie gemaak, maar het nou ’n tuiste in Mbombela gevind.

Stonehouse sê hulle het in die aanloop tot die wedstryd teen die Johannesburgers baie aandag aan hul vaste fasette gegee “omdat ons weet hoe sterk die Leeus in die skrums is”.

“Ek is tevrede met hoe ons voorbereiding verloop het en ons sien daarna uit om terug op die veld te wees. Dit is ook vir ons borge goed dat ons weer speel en dit boonop op ons tuisveld,” sê hy.

Die Leeus het aan hul laaste kragmeting in die Reënboogbeker-reeks die afgelope naweek met die Stormers onttrek omdat ’n paar Johannesburgers positief vir Covid-19 getoets is.

• Die Laevelders wys Dinsdag hul span vir die kragmeting met die Leeus aan.

Meer oor:  Pumas  |  Willie Engelbrecht  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.