Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Onsekerheid maak manne dood’

Die onsekerheid oor wanneer rugby te midde van die Covid-19-pandemie gaan hervat, besorg nie net spelers grys hare nie, maar ook vir afrigters, wat moet sorg dat hul spelerskorps positief bly.

Scott Mathie, afrigter van Griekwas, erken dit is ’n opdraande stryd. Anders as die plaaslike spanne wat aan die Super- en Pro14-reeks deelneem, het die Poubloues vanjaar nog niks rugby gespeel nie.

Zak Burger, skrumskakel van Griekwas, tydens ’n Curriebeker-wedstryd teen die Blou Bulle in 2019 in Pretoria. Foto: Gallo Images

“Dit is nie maklik nie. Ek dink ons almal, die spelers en bestuur, deel die frustrasie van die situasie. Maar wat ons wel besef, is dat ons daarby moet aanpas.

“Dinge verander gedurig, so ons probeer regtig net om op elke dag te fokus. Ons (spelers en afrigters) is gedurig in kontak, want hoe meer ons kommunikeer, hoe meer verstaan almal dat ons saam hierin is en kan ons in dieselfde rigting beweeg,” sê Mathie.

Die span van Kimberley sal wil wys dat dit geen vloekskoot was toe hy in 2019 in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks gespeel het nie, maar daar is nog nie sekerheid oor wanneer en óf vanjaar se reeks beslis gaan word nie.

Scott Mathie, afrigter van Griekwas. Foto: Argief

Daar is sprake dat die Curriebeker aan die einde van Augustus kan afskop, maar spanne wag nog op die groen lig om kontakoefeninge te hervat.

Vir spelers wat nog nie kontrakte vir 2022 gesluit het nie, of aspirasies het om as ’n leenspeler by een van die franchises diens te doen, is dit veral ’n frustrerende tyd. Hulle moet immers op die veld wees om potensiële werkgewers van hul deugde te oortuig.

Ook die Pumas, wat soos Griekwas in die Curriebeker-reeks speel maar nie aan ’n buitelandse kompetisie deelneem nie, het verlede jaar laas rugby gespeel.

“Ons het ’n klomp uitdagings en natuurlik wil die ouens terug op die veld kom. Ek dink die onsekerheid is die ding wat die manne ‘dood’ maak,” sê Jimmy Stonehouse, afrigter van die Laevelders.

“Jy het ouens wat hulself wil bewys en ons as span wil ook graag ons staal wys teen spanne wat vol Springbokke gaan wees.

“Die grootste ding waarop ek fokus, is om die spelers te herinner dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves. Oefen is een van die dinge wat kan help om jou positief te hou,” sê hy.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, sê die onsekerheid maak die spelers “dood”. Foto: Gallo Images

• Intussen lek Mathie behoorlik sy lippe af oor die koms van die Southern Kings se Masixole Banda op 1 November. Daar word hoë verwagtinge gekoester van dié 32-jarige veelsydige agterspeler, wat net 1,65 m in sy sokkies staan.

“Masixole beskik nie net oor baie ervaring nie, maar ook oor die potensiaal om ’n spelskepper op die veld te wees. Hy is baie gevaarlik in gebroke spel en het ’n goeie skopvoet,” sê Mathie.

Hy glo dit is die era van spelers wat kleiner van postuur is, soos wat die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe in 2019 by die Wêreldbeker-toernooi gewys het.

“Kleiner spelers beskik oor die algemeen oor uitsonderlike voetwerk en vaartversnelling. Solank as wat hierdie spelers dapper in die kontaksituasies is, sal dit jou baat. Masixole beskik oor al hierdie karaktereienskappe, so ons sien daarna uit om hom op die veld te hê.”

Meer oor:  Kimberley  |  Mbombela  |  Pumas  |  Scott Mathie  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Jimmy Stonehouse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.