Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stonehouse se oog reeds op Stormers
Die Pumas se Morgan Naudé (met die bal) gedurende Saterdag se kragmeting in Kimberley. Regs is HJ Luus, haker van Griekwas. Foto: Gallo Images

Van uitbundige feesvieringe in Mbombela nadat die Pumas so effens teen die verwagting in Griekwas Saterdag geklop het, is daar nie sprake nie, want die volgende hekkie is hemelhoog.

Tog was Jimmy Stonehouse, afrigter van die Laevelders, ’n verligte man ná sy span se oorwinning van 27-21 in Kimberley in die Superrugby Unlocked-reeks.

Juis omdat hy weet daardie nederlaag die vorige naweek teen die Vrystaat-Cheetahs (31-53) het sy spelers lelik gekneus gelaat.

“Ek dink dinge het baie goed bymekaar gekom, nadat ons baie spelers verloor het (weens beserings) ná verlede naweek se wedstryd. Die oorwinning is baie belangrik, veral ná daardie nederlaag.

As jy kyk hoeveel spelers van die Wêreldbeker-toernooi in die Stormers se agttal is, gaan dit nie maklik wees nie.
Jimmy Stonehosue

“Maar ons begin Maandag weer van voor af. As jy kyk hoeveel spelers van die Wêreldbeker-toernooi in die Stormers se agttal is, gaan dit nie maklik wees nie,” sê Stonehouse.

Die Pumas speel Vrydag gasheer vir die Stormers en met die besoekers wat oor talle Springbokke in hul geledere beskik, wag daar ’n opdraande stryd.

Maar Stonehouse het rede om optimisties te wees. Sy span het gewen omdat hy die Poubloues in die vaste fasette oorheers het. Hy het lynstaanballe op die tuisspan se ingooi gegaps, Griekwas in die skrums laat brul en omkeerbesit bewerkstellig. Hy het gelyk soos ’n span wat wil speel.

Die stut Morgan Naudé was ’n meneer in die skrums en Willie Engelbrecht (losvoorspeler) het besit omgekeer en die bal sterk gedra. Agterlangs was die wenspan se losskakel, Eddie Fouché, soos ’n generaal.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas. Foto: Gallo Images

“Teen die Cheetahs het ons die skrums oorheers, maar is in dié faset gestraf. Ek dink Morgan Naudé, die kaptein, Pieter Jansen van Vuren (slot), Willie Engelbrecht, Jeandré Rudolph (losvoorspeler) en Phumzile Maqondwana (losvoorspeler), toe hy opgegaan het, was baie goed,” sê Stonehouse.

Nadat die Poubloues verlede naweek soveel belofte teen die Bulle in Pretoria getoon het, is dit seker te verstane dat die Noord-Kapenaars se breier, Scott Mathie, teleurgesteld is. Want Saterdag se vertoning was wêrelde daarvan verwyder.

“Ja, dit is nie die uitslag wat ons gesoek het nie. Ek het gevoel ons reaksie en werkstempo van die bal af was net nie goed genoeg nie, wat ons nie toegelaat het om in goeie posisies vir aanvalle te wees nie.

“Die groot probleem was ons werkstempo. Ek dink nie ons ingesteldheid was reg nie. Ek het gevoel dat ons ’n bietjie oorgerus was, iets wat onverskoonbaar is,” sê Mathie.

“Dit help ook nie as jou lynstane nie goed werk en hulle te veel balle by jou steel nie. Ek dink dit is waar ons verloor het.

“Gewoonlik as jy een of twee van jou sleutelspelers verloor, gebeur dit dat jou werkstempo verbeter. Ek dink die Pumas het 10% meer werkstempo van al hul spelers vandag gekry. Dit het hulle gehelp.”

* Griekwas het die komende naweek ’n loslootjie.

Puntemakers:
Pumas 27 (17): Drieë: Ginter Smuts, Neil Maritz, Devon Williams. Doelskoppe: Eddie Fouché (3). Strafdoele: Fouché (2).
Griekwas 21 (11): Drieë: Victor Sekekete, Adré Smith. Doelskop: George Whitehead. Strafdoele: Whitehead (3).

Meer oor:  Jimmy Stonehouse  |  Kaapstad  |  Mpumalanga  |  Unlocked  |  Stormers  |  Superrugby  |  Griekwas  |  Rugby  |  Pumas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.