Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stonehouse stuur SOS aan White
Eduan Swart in aksie vir die Blou Bulle se o.21-span in die nasionale kampioenskap vroeër vanjaar. Foto: Gallo Images

Met ’n rits beserings wat dreig om die Pumas se Curriebeker-veldtog te laat ontspoor, het dié span se afrigter, Jimmy Stonehouse, by die Bulle se Jake White om hulp gaan aanklop.

Die Laevelders het die tydelike dienste van die Bul-stutte Kudzwai Dube en Eduan Swart bekom. Die twee was deel van die Pretorianers se o.21-span, wat ’n maand gelede die nasionale titel in dié ouderdomsgroep gewen het.

Dube, wat in 2019 vir die Junior Bokke gespeel het, was kaptein van die Bulle se o.21’s. Hy het aan die Muir College Boys High School in Uitenhage in die Oos-Kaap gematrikuleer, terwyl Swart ’n produk van die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria is.

“Ons sit met soveel beserings dat ek nie ’n ander keuse gehad het as om vir Jake (afrigter van die Bulle) te bel en te vra of hulle ons met spelers kan help nie,” sê Stonehouse.

Die plan is dat die twee vandeesweek in Mbombela aanmeld, met Dube wat tans in die Oos-Kaap is. Met hulle aankoms sal hulle vir die koronavirus getoets word en dan tien dae in isolasie wees voordat hulle oorweeg kan word.

Hoewel hulle nie dadelik beskikbaar sal wees nie, kan die jongelinge se aankoms dalk net verseker dat die Laevelders hul seisoen op ’n hoë noot eindig.

Kudzwai Dube sit af op ’n lopie vir die Junior Springbokke teen Skotland by die o.20-Wêreldtoernooi in 2019 in Argentinië. Foto: Getty Images

Beserings is besig om die Pumas se rugbyseisoen in ’n nagmerrie te laat ontaard. Spelers soos Ryan Nell (senter), Le Roux Roets (slot), Eddie Fouché, Niel Marais (albei losskakels) en Marné Coetzee (stut) is reeds vroeg in die seisoen beseer.

Die stut Morgan Naudé (skouer) en slot en kaptein, Pieter Jansen van Vuren (ribbesering), het die afgelope naweek se kragmeting met die Haaie misgeloop. Naudé sal beslis nie vir die naweek se kragmeting met Griekwas oorweeg kan word nie, terwyl Jansen van Vuren in ’n wedloop teen tyd is om fiks verklaar te word.

Met Coetzee en Naudé op die krukkelys, is die Laevelders kwesbaar in die skrums, wat die hele span onder druk en op die agtervoet plaas.

Dis egter nie waar die Pumas se probleme eindig nie. Hul diepte op losskakel is nie net uitgedun nie, maar het die bodem van die put bereik. Met Fouché en Marais buite aksie, en Fiela Boshoff wat las van ’n skeet het, is Devon Williams teen die KwaZulu-Natallers met die nr. 10-trui toevertrou.

Die gedwonge skuif met Williams, wat gewoonlik heelagter speel en daar skitterspel lewer, het egter nie gewerk nie. Boshoff was teen die Haaie op die plaasvervangersbank en is later opgestuur, maar kon nog nie vandeesweek oefen nie.

Jake White (regs) in gesprek met Jimmy Stonehouse (met sy rug na kamera) toe die Pumas en Bulle in November in Pretoria teen mekaar gespeel het. Links is Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy. Foto: Gallo Images

Die telefoonlyne na Rudolf Straeuli (uitvoerende hoof van die Leeus) in Johannesburg is ook reeds warm gebel in ’n poging om daar spelers te leen om die Laevelders se pyne te probeer verlig.

Ten spyte van al die ontwrigtings in Mbombela moet Stonehouse vandeesweek ’n span voorberei vir Vrydag se Curriebeker-stryd teen Griekwas in die Laeveld.

“Vir ons is dit ’n geval van reg of weg. Griekwas is op pad boontoe en het in hul laaste vier wedstryde baie goed vertoon. Hulle skrums en lynstane is goed en hulle is beslis die gunsteling,” sê Stonehouse.

• Volgens Scott Mathie, afrigter van die Poubloues, sal hulle teen Woensdag ’n beter aanduiding hê oor die aard van die flank Gideon van der Merwe se besering. Hy het die afgelope naweek teen die Leeus ’n hou teen die kop gekry.

Goeie nuus vir Griekwas is dat van dié unie se voorste spelers soos Zak Burger (skrumskakel), Johnathan Francke (senter), George Whitehead (losskakel) en Mox Mxoli (stut) almal in 2021 steeds hul rugby in Kimberley gaan speel.

Meer oor:  Pumas  |  Jake White  |  Bulle  |  Curriebeker  |  Jimmy Stonehouse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.