Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stonehouse ‘verklaar’ Leeus CB-kampioen

Met die aanwys van die Pumas se span vir hul eerste wedstryd van vanjaar se Curriebeker-rugbyreeks, het die Laevelders se afrigter, Jimmy Stonehouse, die heuningkwas uitgehaal en die Leeus se lof behoorlik besing.

Dié twee spanne pak mekaar Vrydagaand in Nelspruit.

Devon Williams in aksie teen die Bulle vroeër vanjaar in Nelspruit. Foto: Gallo Images

“Dit is vir ons baie belangrik om die seisoen met ’n sege af te skop. Maar dit gaan nie maklik wees nie, aangesien ons teen waarskynlik die sterkste span in vanjaar se kompetisie begin,” het Stonehouse Woensdag gesê.

“Ek dink met die groot spanne wat almal ’n aantal spelers aan die Bokke afstaan (vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus), moet die Leeus waarskynlik die gunsteling wees om vanjaar se Curriebeker te wen.”

Met die uitsondering van die stut Morgan Naudé, wat op die krukkelys is, het Stonehouse al sy groot kanonne vir die kragmeting gekies.

Selfs in Naudé se afwesigheid het die Laevelders ’n gedugte voorry bestaande uit Marné Coetzee, Simon Westraadt en Corné Fourie.

Wanneer dié drietal ’n blaaskans kry, sal Eduan Swart, Dewald Maritz en Ig Prinsloo by hulle oorneem.

Jimmy Stonehouse het die heuningkwas uitgehaal en behoorlik die Leeus se lof besing. Foto: Gallo Images

Voeg daarby ’n gedugte lostrio bestaande uit Willie Engelbrecht, Phumzile Maqondwana en Francois Kleinhans en dit is duidelik dat die Laevelders die Leeus voorlangs wil knak.

Maar Stonehouse ontken dat dit presies die plan is.

“By ons gaan dit oor die voor- en agterspelers. Ons is nie net ’n span wat voor speel nie, net soos wat die Leeus ook met hul voor- en agterspelers speel.”

Hoe dit ook al sy, daar is ook genoeg slaankrag agterlangs om die Leeus ’n paar kopsorge te gee.

In Devon Williams (heelagter) en Tapiwa Mafura (vleuel) het die Pumas spelers wat nie staan en wonder wat hulle moet maak wanneer die bal na hulle kant toe kom nie.

Voeg hierby Eddie Fouché, wat verlede seisoen by tye op sy gemak in die nr. 10-trui gelyk het, en jy weet hoekom die Leeus nie hierdie uitstappie na die Laeveld ligtelik moet opneem nie.

Die ervare Pieter Jansen van Vuren (slot) sal weer soos verlede seisoen die Pumas op die veld lei. Marné Coetzee (stut) speel Vrydag in sy 50ste wedstryd vir die Laevelders.

Pumas: Devon Williams, Tapiwa Mafura, Erich Cronjé, Ali Mgijima, Etienne Taljaard, Eddie Fouché, Chriswill September, Willie Engelbrecht, Phumzile Maqondwana, Francois Kleinhans, Pieter Jansen van Vuren (k), Darrien Landsberg, Marné Coetzee, Simon Westraadt, Corné Fourie. PLAASVERVANGERS: Eduan Swart, Dewald Maritz, Ig Prinsloo, Brandon Valentyn, Daniel Maartens, Ginter Smuts, Matt More, Jade Stighling.
Meer oor:  Pumas  |  Leeus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.