’n Haas uit die hoed pluk, dit is presies wat Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, die afgelope naweek vermag het deur die 36-jarige Brendon Snyman teen die Haaie in te span.
Weens ’n rits beserings in die Laevelders se kamp is Snyman, ’n slot, kort voor Vrydagaand se Curriebeker-wedstryd in Durban in die beginspan ingesluit. Dit op ’n ouderdom wat die gemiddelde rugbyspeler se speeldae al iets van die verlede is.

Brendon Snyman in 2013 toe hy vir die Luiperds gespeel het. Foto: Gallo Images
“ ’n Ou vat maar ’n bietjie langer om te herstel. Ek dink nie dit is ’n ding van jou fiksheid of krag nie. Dit is net die hersteltyd. Ek bedoel, dit is nou al Maandag en my lyf is steeds seer van Vrydag se wedstryd,” sê Snyman.
Op die vraag of van sy spanmaats hom as “oom” aanspreek, antwoord Snyman, wat voorheen vir plaaslike spanne soos Griekwas en die Luiperds uitgedraf het, dat dit ’n “teer puntjie” is.
Ek dink as jy nog ’n bydrae kan lewer, is jou ouderdom nie ’n kwessie nie.
“Vir my is dit ’n voorreg om op hierdie ouderdom steeds mededingende rugby te speel. Jy weet gewoonlik hier op 29 word aanvaar dat ouens se speeldae einde se kant toe staan.
“Maar ek wil steeds rugby speel. Onthou, iemand soos Morné Steyn (Bulle) is 36, terwyl Dan Carter (voormalige losskakel van die All Blacks) 38 is. Ek dink as jy nog ’n bydrae kan lewer, is jou ouderdom nie ’n kwessie nie,” sê Snyman.
Dié boorling van Polokwane kan seker as ’n effense trekvoël beskou word. Hy het ook vir ander plaaslike spanne soos die Oostelike Provinsie en SWD diens gedoen. Dan het hy ook vir klubspanne in lande soos Engeland en Frankryk gespeel.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas. Foto: Gallo Images
Snyman is deesdae woonagtig in Nieu-Seeland, waar hy ’n bouer is en klubrugby vir die Excelsior-rugbyklub in Oamaru speel.
Hy was egter in Suid-Afrika kort voordat die inperking weens Covid-19 in werking getree het. Dit het hom verhoed om terug te keer na Nieu-Seeland. Hy het drie weke gelede as ’n “medical joker”(’n plaasvervanger vir ’n gekontrakteerde speler met ’n langtermyn-besering) by die Pumas aangemeld.
Stonehouse en Snyman is nie vreemdelinge vir mekaar nie en kom al ’n lang pad. Snyman was kaptein van die Suid-Afrikaanse Presidentsvyftiental wat deur Stonehouse afgerig is, wat die Tbilisi-bekertoernooi in 2013 in Georgië gewen het.
“Dit was vir my baie lekker om weer in ’n wedstryd op so ’n hoë vlak te speel,” sê Snyman.
“Ek is iemand wat hou van skrums en rolmaalbewegings – en is nie regtig gebou vir lopies met die bal nie.”
• Die Laevelders se beseringslys het intussen sodanig gekrimp dat Snyman se dienste nie langer benodig word nie.