Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stonehouse waarsku oor Cheetahs

Die gekweste Vrystaat-Cheetahs gaan vanjaar ’n moeilike teenstander op die rugbyveld wees ná die afjak wat ringkoppe van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie hulle vandeesweek gegee het, meen Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas.

Spelers van die Vrystaat-Cheetahs gedurende ’n Curriebeker-wedstryd teen die Westelike Provinsie in 2019 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Die breier van die Laevelders is Woensdag om kommentaar genader nadat die Vrystaters die vorige dag gehoor het dat hulle hul plek in die Pro14-reeks kwyt is. Stonehouse is vas oortuig die Cheetahs, die Curriebeker-kampioene, gaan juis om daardie rede voel hulle het ’n punt om te bewys.

“Ek verstaan die besluit, die tydsaspek met reis verbonde en dat dit ’n beter inkomste vir SA Rugby verseker. So uit daardie oogpunt maak dit sin. Maar rugbygewys dink ek die Cheetahs het die kans verdien om in die Pro14 te speel,” sê Stonehouse.

“Dit is nie die Cheetahs se skuld dat die ander spanne sonder hul Springbokke (in 2019) gespeel het nie. Dit is juis wat die Vrystaters vanjaar so gevaarlik kan maak, hulle gaan daarop uit wees om ’n punt te bewys.

“Tog is dit goed dat hulle in die ander reeks (’n nuwe Superreeks) speelkans gaan kry, maar nou weet ’n mens ook nie hoe sterk die mededinging daar gaan wees nie.”

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, verwag ’n omgesukkelde Cheetah-span vanjaar. Foto: Gallo Images

Stonehouse se Pumas kan die eerste plaaslike span wees om oor ’n rapsie meer as ’n week uit te vind presies hoe seer daardie afjak die Cheetahs gemaak het. Die twee spanne is dan slaags in ’n Superrugby Unlocked-wedstryd in Bloemfontein.

Daar kan natuurlik nog later in die seisoen ’n paar kinkels in die kabel volg indien die Springbokke nie aan die Rugbykampioenskap deelneem nie. Dit sal beteken dat die nasionale spelers die hele seisoen vir hul plaaslike spanne beskikbaar kan wees. Indien die Cheetahs dan met byvoorbeeld ’n sterbelaaide Blou Bulle- of Westelike Provinsie-span afreken, kan dit ’n paar baadjiedraers met rooi gesigte laat.

Die Pumas kom Vrydag teen die Leeus in Johannesburg te staan – hul laaste oefenwedstryd voordat hulle die Cheetahs pak. Hulle het verlede week ’n vyftiental van die Blou Bulle in Mbombela geklop – vir die meeste Laevelders hul eerste kragmeting in langer as ’n jaar.

“Dit was ’n aanpassing vir die spelers en ook ons as afrigters om weer in ’n wedstryd betrokke te wees. Maar die opgewondenheid om weer te speel het alles oortref.

“Dit is wel snaaks om in ’n leë stadion te speel en al die streng protokolle te volg – en dan nie eens ná die tyd nog ’n bietjie saam te kuier nie,” sê Stonehouse.

Hy het nog nie sy groep vir die kragmeting met die Johannesburgers aangewys nie, aangesien Devon Williams (veelsydige agterspeler), Marné Coetzee (stut) en Pieter Jansen van Vuren (slot) nog effense las van ligte kwale het.

“Ons is opgewonde oor die wedstryd, dit gee ons ’n laaste kans om ons kombinasies uit te toets. Ons is goed voorberei. Ek verwag dat die Leeus hul beste spelers gaan inspan – met die uitsondering van hul ouens wat by die Groen-en-Goud-wedstryd betrokke is.”

Meer oor:  Pumas  |  Superrugby Unlocked  |  Cheetahs  |  Rugby  |  Jimmy Stonehouse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.