Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers-blits Sergeal reg vir Bulle

Die Stormers hou nog asem op oor die lot van Seabelo Senatla en Willie Engelbrecht nadat hulle die naweek teen die Haaie rooikaarte gekry het, maar die Kapenaars het hul Plan B vir Saterdag se Reënboogbeker-wedstryd teen die Bulle in die Kaapstad-stadion agtermekaar.

Volgens Dawie Snyman, die Stormers se agterlynafrigter, is Sergeal Petersen weer beskikbaar. Hy is die logiese keuse om Senatla te vervang. Die kanse is bitter skraal dat Senatla ’n skorsing gaan vryspring nadat hy Aphelele Fassi blatant in die lug geduik het.

Sergeal Petersen is gereed om Saterdag in die Reënboogbeker SA-wedstryd teen die Bulle in die Kaapstad-stadion as plaasvervanger vir Seabelo Senatla op vleuel in die Stormers se span op te tree. Foto: Gallo Images

Engelbrecht sal duim vashou dat sy twee geelkaarte as voldoende straf vir sy gevaarlike duikslae beskou sal word. Indien nie, behoort Evan Roos as agtsteman te begin en Marcel Theunissen onder die plaasvervangers te wees.

Dié twee spelers se tugverhore vind eers Woensdag plaas.

Daar sal minstens nóg twee veranderings aan die agterlyn wees nadat die losskakel Kade Wolhuter ’n ernstige kniebesering opgedoen en die Stormers Ruhan Nel aan die Springbok-sewesspan vrygestel het.

Buiten die aanslaan in die doelgebied wat die Stormers die wedstryd teen die Haaie gekos het, is Nel se spelpeil goed en dis ’n gevoelige verlies.

“Ons het Ruhan die geleentheid gegee om saam met die sewesspan te oefen. Hulle het twee toernooie wat voorlê. Dit was nog altyd een van sy drome om die Olimpiese span te haal,” verduidelik Snyman.

“Ons het Dan du Plessis en Cornel Smit wat daardie posisie kan dek.”

Gegewe dat hy die afgelope jaar gereeld saam met Rikus Pretorius gespeel het, behoort Du Plessis Nel te vervang. Smit het in ’n paar voorbereidingswedstryde goed in die Stormers se middelveld gevaar.

“Cornel was briljant in die wedstryde teen die Cheetahs en Griekwas. Hy oefen goed en ’n opwindende toekoms lê vir hom voor,” sê Snyman.

“Hy geniet dit om aan te val en hou daarvan om die bal in die hand te hê, so hy het daardie instink. Hy het ook baie hard aan sy verdediging gewerk en was in die kol in daardie twee wedstryde.”

Abner van Reenen behoort Wolhuter te vervang, en Snyman meen nie hulle verskil baie van mekaar as losskakels nie.

“Hulle is redelike soortgelyke spelers. Abner bied jou die X-faktor, het ’n baie goeie vermoë om ruimte raak te sien en kan met ’n aangee of met sy stewel die bal in spasie kry. Wanneer ons met hom op losskakel oefen, voel dit asof daar vloei in ons aanval is,” sê Snyman.

“Ons sal Kade se skopstewel mis in terme van sy akkuraatheid met skopwerk pale toe, maar Abner werk ook hard daaraan en het ’n goeie slaagsyfer.”

Die Stormers is nog onseker of die slot JD Schickerling betyds van ’n enkelbesering sal herstel, wat kan beteken dat David Meihuizen as Marvin Orie se slotmaat ingespan kan word. Salmaan Moerat is tans met ’n nekbesering op die kantlyn.

Meer oor:  Sergeal Petersen  |  Stormers  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.