Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers bo ná doodsnik-drama

Die Kaap is weer Hollands in die Stormers-kamp, nadat ’n laat strafdoel deur Tim Swiel uiteindelik ’n einde aan hul Reënboogbeker-wendroogte gemaak het.

Die Stormers se Edwill van der Merwe seil oor die doellyn ná hy die Leeus van hul voete gehardloop het in dié spanne se kragmeting op Ellispark. Foto: Gallo Images

Die Kapenaars het die Leeus se harte Saterdag op Ellispark met ’n naelskraapse sege van 39-37 gebreek, ná ’n opwindende wedstryd waarin hulle vyf drieë gedruk het en nog ’n paar goue geleenthede met swak aangeë of hantering verspeel het.

Dat die Stormers met ’n agterlyn vol spoed en visie spog, kan nie betwis word nie, maar hulle sal nooit tot hul volle potensiaal speel terwyl hulle so geneig tot wilde aangeë en bottervingers bly nie.

Die kere dat hulle daardie gier ontwyk het, het blitse soos Edwill van der Merwe en Rikus Pretorius die Leeus se verdedigingslinie goed laat bontstaan. Agter ’n pak voorspelers wat lus was vir inklimrugby het die Stormers hope ruimte bewerkstellig en gereeld gevaarlik gelyk.

Die Kapenaars moes egter self hard werk op die verdediging, met die Leeus in hul eerste wedstryd van die reeks op hul tuisveld bitter lus vir hardloop.

Die insluiting van die 19-jarige losskakel Jordan Hendrikse was ’n meesterskuif deur sy afrigters. Sy verspreiding is uitstekend en hy en sy spanmaats was almal gretig om die bal oor die voordeellyn te kry.

Dis alles goed en wel dat die Leeus se breintrust hul spelers vaardiger wil maak in wedstryde gesentreer rondom skoppe of voorspelerkrag, maar die Johannesburgers bly maar op hul beste wanneer hulle die bal deur die hande stuur.

Daarvan was daar Saterdag geen beter bewys nie as die aanloop tot EW Viljoen se drie, toe die bal blitsig deur vier pare Leeus-hande vleuel toe gejaag is vir die heelagter om af te rond.

Dat die Leeus dié wedstryd verloor het, is iets waaroor almal in hul kamp ’n paar slapelose nagte sal hê. Hulle het hul beste vertoning in weke gelewer, en gewys dat hulle in jongelinge soos Hendrikse, die Tshituka-broers, MJ Pelser en Morné van den Berg spelers het wat nog hope vuurwerk kan lewer.

Langs Hendrikse was die begin-skrumskakel André Warner en binnesenter Burger Odendaal ook op hul skerpste.

Die verskil tussen die twee spanne was uiteindelik geduld – of dan liewer onnodige ongeduld.

Die Stormers se eerste drie is gedruk nadat hulle die bal geduldig deur die fases gestuur het voordat hulle dit wyd gestuur het vir Dan du Plessis om deur ’n gaping te breek. En met hul rolmaalbewegings (’n faset wat natuurlik ook groot geduld vereis) was hulle op hul koppe.

Die Leeus, daarenteen, het kop verloor toe hulle die horlosie in die doodsnikke geduldig moes aftel en die bal onder die voorspelers hou.

Met net 15 sekondes oor het hulle ’n skrale voorsprong van 37-36 gehad, en was die bal veilig in hul besit. Maar toe Willem Alberts wegbreek van sy spanmaats om elders te gaan hopie maak, het die Stormers se Bok-skrumskakel Herschel Jantjies hom genoeg op die grond gepla om ’n strafskop af te dwing. Van daar het die Kapenaars die bal deur die hande gestuur, en ná ’n minuut reg voor die pale die strafdoel gekry wat die uitslag bepaal het.

Die Stormers kan ’n sug van verligting slaak dat hulle uiteindelik terug in die wenkamp is – naelskraaps of te nie – maar die Leeus hoef ook nie in sak en as te sit nie. Die kern van hul span is weliswaar jonger en meer onervare as die ander franchises s’n, maar daar is duidelik ewe veel talent.

Puntemakers:

Stormers 39 (15): Drieë: Dan du Plessis (2), Bongi Mbonambi, Marcel Theunissen, Edwill van der Merwe. Doelskoppe: Abner van Reenen (2), Tim Swiel (2). Strafdoele: Van Reenen, Tim Swiel.

Leeus 37 (22): Drieë: Wandisile Simelane, MJ Pelser, EW Viljoen, André Warner, Rabz Maxwane. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3). Strafdoele: Hendrikse (2).

Meer oor:  Stormers Leeus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.