Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers desperaat om op koers te kom

“Desperaat.”

So het Steven Kitshoff, die Stormers se kaptein, die stemming in sy span se kamp saamgevat voor Saterdag se Reënboogbeker-wedstryd teen die Leeus op Ellispark in Johannesburg.

Die rede daarvoor is eenvoudig. Hulle het op hul tuisveld teen die Haaie en Bulle verloor. Albei was wedstryde wat hulle eintlik moes gewen het.

Ernst van Rhyn is op sy beste as ’n losvoorspeler, maar is met die taak gelaat om ’n ranker in Saterdag se Reënboogbeker-wedstryd teen die Leeus op Ellispark te wees. Foto: Gallo Images

“Die ouens is steeds baie positief, want ons het met ons ontleding van die wedstryd (teen die Bulle) gesien daar was baie geleenthede wat ons nie benut het nie. Dit was hierdie week ’n groot fokuspunt,” het Kitshoff Vrydag met die bekendmaking van die Stormers se opdrafspan gesê.

“Ons het vir mekaar gesê dat indien ons uitvoering in daardie oomblikke in die kol is en ons besoeke aan die teenstanders se kwartgebied in punte omskep kan word, sal die wedstryd ná 80 minute baie anders lyk.

“Ons is desperaat om te wen. Enige span wat twee wedstryde verloor het . . . dis glad nie lekker nie. So jy wil daai wen agter die blad kry en momentum aan die seisoen gee.

“Dis nou in ons hande. Ons het goed voorberei en weet presies wat die Leeus gaan bring en die areas waar ons in die vorige weke tekort geskiet het.”

Steven Kitshoff (links), die Stormers se kaptein, en John Dobson, die afrigter, gesels met die media voor die wedstryd teen die Leeus. Foto: Gallo Images

’n Groot pluspunt vir die Stormers is die terugkeer van die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies, maar terselfdertyd is hulle hul Bok-kolos Pieter-Steph du Toit kwyt.

Du Toit het sedert sy terugkeer ná ’n jaar op die krukkelys nog net twee wedstryde gespeel, maar die Stormers moes hom as gevolg van omstandighede teen die Haaie die volle 80 minute laat speel. Die bedoeling was vir ’n meer geleidelike terugkeer en daar word gevrees dat hy vatbaar vir nog ’n besering kan wees.

Du Toit tel ook onder die Bokke wat ’n wedstryd in die Reënboogbeker-reeks móét misloop om te verseker dat hy fisiek op sy beste sal wees vir die komende toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus. Alles in ag genome was hierdie die beste tyd daarvoor.

Abner van Reenen sal hoop op ’n veel beter vertoning teen die Leeus as wat verlede week teen die Bulle die geval was. Foto: Gallo Images

“Elke lid van ons afrigtingspan wil vir Pieter-Steph op Ellispark hê vir ’n wedstryd wat ons bitter graag wil wen, maar ons moet doen wat reg is vir die speler, landsbelang en seker ook onsself,” sê John Dobson, die Stormers se afrigter.

Wat die Leeus betref, meen Dobson die keuse van die 19-jarige Jordan Hendrikse op losskakel kan dalk ’n klemverskuiwing in hul wedstrydplan teweegbring.

“Hy beskik oor die X-faktor en ’n aftrap. Ek dink dis ’n teken dat die Leeus aanvallende rugby gaan speel, dalk ’n bietjie meer as die afgelope paar weke,” sê Dobson.

“Op ’n wye veld soos Ellispark kan dit ons verdediging onder ’n bietjie meer druk plaas.”

Aan die Stormers se kant is die kollig ook op hul losskakel, Abner van Reenen. Hy het verlede naweek ’n nagmerrie teen die Bulle beleef, maar die vlinders in sy maag was te verstane gegewe dat hy nog nie voorheen aan sulke druk blootgestel was nie. Nou is dit reg of weg.

Leeus: EW Viljoen, Rabz Maxwane, Wandisile Simelane, Burger Odendaal (k), Courtnall Skosan, Jordan Hendrikse, André Warner; Francke Horn, Vincent Tshituka, MJ Pelser, Reinhard Nothnagel, Ruben Schoeman, Carlu Sadie, Jaco Visagie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: PJ Botha, Ruan Dreyer, Asenathi Ntlabakanye, Willem Alberts, Emmanuel Tshituka, Morné van den Berg, Fred Zeilinga, Dan Kriel.

Stormers: Damian Willemse, Sergeal Petersen, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Edwill van der Merwe, Abner van Reenen, Herschel Jantjies, Evan Roos, Willie Engelbrecht, Marcel Theunissen, David Meihuizen, Ernst van Rhyn, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni, Ali Vermaak, Neethling Fouché, Ben-Jason Dixon, Johan du Toit, Juarno Augustus, Paul de Wet, Tim Swiel.

Skeidsregter: AJ Jacobs.

Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni en Morné Ferreira.

TV-skeidsregter: Stuart Berry.

TV: 13:30 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN.

Meer oor:  Stormers  |  Leeus  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.