Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers gaan Saracens pak in Spurs-stadion

Die Stormers en die Engelse rugbyklub Saracens voer planne in die mou vir ’n “hoëprofiel-wedstryd” in die Tottenham Hotspur-stadion aanstaande jaar.

Justin Marshall word deur Schalk Brits agternagesit in ’n vriendskaplike wedstryd tussen die Stormers en Saracens op Nuweland in 2009. Marshall, ’n voormalige All Black, het sy loopbaan by die Londense klub afgesluit, terwyl Brits later ’n legende by dié Engelse klub geword het. Foto: Gallo Images

Daar is nog nie op ’n datum besluit nie, maar die partye het nietemin Donderdagaand ’n gesamentlike verklaring uitgereik. Saracens het tradisioneel noue bande met die Westelike Provinsie en het al toere na die Kaap onderneem.

Met dié dat daar weerskante toe etlike spelers is wat hul lande in verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd verteenwoordig het, kan dit straks ’n effense wraakstryd vir die Engelse wees.

Owen Farrell en Maro Itoje, waarskynlik die Rose se grootste sterre, speel albei vir Saracens. Aan die Stormers se kant is daar Springbok-helde soos Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Steven Kitshoff, Frans Malherbe en Bongi Mbonambi.

John Dobson, die Stormers se afrigter, sê só ’n wedstryd sal vir sy span ’n “ideale toets” wees.

John Dobson, die Stormers se afrigter. Foto: Gallo Images

“Saracens tel onder die wêreld se beste klubspanne en is bekend vir sy innovasie op en van die veld af, waarvan hierdie wedstryd nóg ’n goeie voorbeeld is,” sê hy in die verklaring.

“Hierdie wedstryd sal vir ons spelers ’n geleentheid gee om hulself in ’n stadion van wêreldgehalte teen ’n sterk span te toets.”

Die datum van dié wedstryd sal waarskynlik afhang van hoe Suid-Afrika se toernooi-strukture vroeg in die nuwe jaar daarna uitsien.

Suid-Afrikaanse spanne kan nie voor Mei aanstaande jaar Nieu-Seeland toe reis nie, wat die Superreeks in sy tradisionele formaat onmoontlik maak.

’n Plaaslike reeks gaan waarskynlik gespeel word, maar die tydgleuf is nog nie bepaal nie.

Saracens is op sy beurt uit die Engelse Premierliga gerelegeer omdat hy salarisperk-reëls oortree het en sal volgende jaar gretig wees om steeds teen topgehalte-spanne te speel. – Sportredaksie

Meer oor:  Stormers  |  Saracens  |  Superrugby  |  Engelse Premierliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.