Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers gerat ná Wildernis-wegbreek

Die Stormers het ’n heel nuwe rigting ingeslaan wat hul voorseisoense oefening vir die Superrugby-reeks betref en daar heers reeds versigtige optimisme in die kamp voor hul eerste Super-stryd op 1 Februarie teen die Hurricanes op Nuweland.

Met John Dobson wat die leisels einde verlede jaar by Robbie Fleck oorgeneem het in ’n tyd toe die span deur stormagtige waters is, het die nuwe afrigter besluit om sy spelers op ’n heel ander ekskursie te neem vir hul voorseisoense oefening vergeleke met vorige jare.

Pieter-Steph du Toit

Gewoonlik oefen die Stormers in Hermanus, maar vanjaar het Dobson besluit om sy spelers op ’n bus te laat klim en in Wildernis langs die Suidkus hul voorbereiding te begin.

Volgens Dobson was dit verpligtend vir die spelers om op die bus te klim om in die Suid-Kaap uit te kom met niemand wat toegelaat is om in hul eie voertuie daarheen te reis nie.

“Wat lekker was, is dat ons kon sing en ’n paar biere geniet op pad daarheen. Daar was goeie energie op die bus,” het hy gesê.

“Ons voorseisoen was ook iets heel anders. Die oefening was nie te intens nie, en ons het baie op aktiwiteite gefokus om spangees te ontwikkel en die spelers nader aan mekaar te bring. Dit was noodsaaklik, want baie van ons Springbokke het eers toe by ons aangesluit omdat hulle afgekry het ná die Wêreldbeker-trofeetoer.

“Ons wou hulle stelselmatig laat inskakel by die nuwe ouens.

“Vat byvoorbeeld vir Steven Kitshoff – hy sou iemand soos Rikus Pretorius (’n groentjie-senter) nie geken het nie. Ons het gevolglik net soveel werk op die veld as van die veld af gedoen.”

Die Stormers se Deon Carstens sit gister in Ravensmead voet in die hoek. Foto: Gallo Images

Die Stormers-spelers het ’n rits aktiwiteite van die veld af gedoen om spangees te bou. Dit het ’n kookkompetisie ingesluit, asook aktiwiteite soos gholf, vierwielfietse en water-ski.

“Die idee was om hulle in groepe te verdeel en in verskeie van dié aktiwiteite is kompetisies gehou.

Die groepe is ingedeel volgens spelers se posisies, ervaring, agtergrond en skool.

“Die belangrikste was om mekaar te leer ken en om pret te hê. Dan wou ons ook daardeur enige vorm van klieks in die groter groep afbreek. Ek is baie gelukkig met hoe dinge gegaan het op ons kamp.”

Dobson het gister die eerste blik gekry op van sy jonger spelers toe hulle in Ravensmead uitgedraf het in ’n opwarmwedstryd waarin die telling blote bysaak was.

Die wedstryd was verdeel in vier kwarte teen onderskeidelik die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, ’n WP-uitnodigingspan, Ikeys en die Maties. Die Stormers se Springbokke is egter in watte toegedraai, met verskeie van hulle wat eers volgende Sondag teen die Haaie in Soweto sal speel.

’n Skouerbesering sal Pieter-Steph du Toit nog ’n tyd lank buite aksie hou, maar hy sal straks gereed wees vir die Stormers se eerste Superrugby-wedstryd teen die Hurricanes.

Meer oor:  Stormers  |  Hurricanes  |  Superrugby-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.