Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers het hul ‘Bakkies en Victor’

Dis nou al ’n goeie paar jaar sedert Bakkies Botha en Victor Matfield uitgetree het, maar hulle word steeds deur baie as die maatstaf vir die ideale slotpaar beskou.

En Rito Hlungwani, die Stormers se voorspeler-afrigter, meen die Kapenaars het in Salmaan Moerat en JD Schickerling ’n paar hemelbesems wat mekaar op ’n soortgelyke manier aanvul.

Salmaan Moerat (agter) en JD Schickerling span saam vir die Stormers in hul Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Leeus op Nuweland die afgelope naweek. Foto: Gallo Images

“Salmaan en JD is dieselfde soort kombinasie as Bakkies en Victor. Ek dink hulle gaan teenstanders nog vir baie jare terroriseer,” voorspel Hlungwani.

“Hulle vul mekaar baie goed aan. Salmaan fokus daarop om met fisieke intensiteit te speel en JD is skerp met die leiding wat hy in die lynstane gee.

“David Meihuizen toon ook baie belofte en gaan in JD se nek blaas om die nr.5-trui. Ons het in Pickles (Chris van Zyl) ook ’n waardevolle slot met sy ervaring. Ons is baie gelukkig om daardie vier slotte te hê.”

As die Bokke nie onttrek is aan vanjaar se Rugbykampioenskap nie, sou Moerat en Schickerling sterk in die prentjie gewees het om hul Springbok-buiging te maak. RG Snyman en Lood de Jager, twee van die Bokke se WB-slotte, is op die langtermynkrukkelys en dít kon die deur vir die Stormers-langerate oopgeswaai het.

Moerat en Schickerling is ook albei gekies om in die Groen en Goud-proefwedstryd op Nuweland te speel.

JD Schickerling (regs) en Salmaan Moerat ding mee om besit in ’n lynstaan in die Springbok-proefwedstryd op Nuweland vroeër dié maand. Foto: Gallo Images

Maar ’n goeie slotpaar is sinoniem met goeie lynstaanspel en dáár, erken Hlungwani, het die Stormers tekort geskiet in die afgelope naweek se oorwinning van 23-17 oor die Leeus op Nuweland.

“Dis altyd moeilik aan die begin van die seisoen en daardie was maar ons tweede wedstryd die afgelope ses maande. Ons was ’n bietjie verroes,” sê Hlungwani.

“Die lynstane is beslis een van die areas waar ons kan verbeter. Ons stel hoë standaarde vir onsself. Ons gaan dalk nie Vrydag (teen die Pumas in Nelspruit) al op ons beste wees nie, maar wil ’n verbetering sien.”

Die Stormers se gesukkel in daardie faset en onvermoë om hul rolmaalbewegings aan die gang te kry, het hulle van gulde geleenthede ontneem om die afgelope naweek punte aan te teken teen die Leeus.

“Ons dryfmaalwerk is goed en dis iets waaruit ons trots put, maar die Leeus was baie goed daarop voorbereid. Die belangrike dinge is dat indien dit weer gebeur, ons in die wedstryd moet kan aanpas,” sê Hlungwani.

“Ek het gevoel ons ondersteunende spelers was nie heg genoeg gebind nie en ons het nie ons liggaamsposisies so laag gekry as wat ons graag wou nie. Maar dis iets waaraan ons hard werk.”

Aan die beseringsfront sal Seabelo Senatla nie betyds herstel om op een van die vleuelposisies aanspraak te maak nie. Dit kan beteken dat Edwill van der Merwe of Angelo Davids die beseerde Sergeal Petersen in die beginspan sal vervang.

Ofskoon die Pumas nie onder Suid-Afrika se groot spanne gereken word nie, het hulle die Stormers laat regop sit met hul oorwinning van 27-21 oor Griekwas die afgelope naweek. Om die Poubloues in Kimberley te klop, is vir enige span ’n prestasie.

“Ons speel teen ’n baie goeie span,” sê Hlungwani.

“Ons het ons ontleding van die Pumas gedoen, maar fokus hoofsaaklik om dinge reg te stel in die areas waar ons tekort geskiet het.”

Meer oor:  Superrugby Unlocked  |  Salmaan Moerat  |  Stormers  |  Jd Schickerling  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.