Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers klink Cheetahs se doppie
Rosko Specman druk gister sy skouspelagtige drie teen die Stormers. Foto: Jaco Marais

Die Stormers het Nuweland gisteraand met drie skouspelagtige drieë gegroet in hul sege met 30-13 (rustyd 13-6) oor die Cheetahs.

Dit was die laaste keer dat hulle ’n mededingende Super-wedstryd in Stormers-gewaad op Nuweland speel.

John Dobson, die Stormers-afrigter, se span het dit egter gans te moeilik vir hulself gemaak nadat hulle heeltemal oorheers het, maar nie die nodige punte daarvoor kon wys nie. Hulle het die Cheetahs reeds vroeg teen die planke gehad en nooit toegelaat dat hulle ’n vastrapplek in die stryd kry nie.

Neem die eerste helfte, waar die tuisspan vir lank omtrent kamp opgeslaan het in die Vrystaters se halfgebied, maar net nie agter die doellyn kon kom nie. Dit was deels te wyte aan die vasbyt-verdediging van die besoekers, maar ook omdat die Stormers by tye soos afkophoenders nie geweet het watter kant toe nie.

Die Stormers-losskakel, Da­mian Willemse, het ’n byna foutlose aand met sy skopvoet gehad en het die Cheetahs-voorspelers veral in daardie eerste 40 minute pal laat omdraai as hy die bal in die hoekie geskop het. Sy en die skrumskakel, Herschel Jantjies, se hangskoppe is ook goed gejaag deur veral die linkervleuel, Angelo Davids, en daarmee is daar goed veld gewen.

Maar ondanks die gebiedsvoordeel wat hulle gehad het en al moes die Cheetahs deurgaans op die agtervoet verdedig, kon daar net nie drieë kom nie. Afronding is steeds ’n aspek wat werk kort, al lyk die Stormers by tye baie goed wanneer hulle aan die hardloop raak.

Juarno Augustus van die Stormers storm voort in Saterdag se wedstryd teen die Cheetahs. Foto: Gallo Images

Neem Juarno Augustus, die Stormers-agsteman, se drie. Warrick Gelant het vanaf heelagter ’n puik bres geslaan en ’n stuk of drie verdedigers geklop voordat hy sy regtervleuel, Ruhan Nel, in besit gestel het. Nel het op sy beurt drie verdedigers geklop, en vanaf die losskrum het Augustus oorgegaan vir die vyfpunter.

Jantjies se drie, vroeg in die stryd, was ewe skerp. Hy het by die klein kantjie van ’n losskrum omgeglip en die Cheetahs onverhoeds gevang het om onaangeraak te gaan druk. Hy en Willemse het as skakelpaar goed gelyk.

Willemse, wat ook met ’n puik skepdoel geslaag en 15 punte aangeteken het, het ook ’n aandeel in Gelant se drie kort voor die eindfluitjie gehad toe hy ’n puik aangee in ’n duikslag gemaak het om sy heelagter oor die doellyn te laat stuur.

Die Cheetahs-drie van Rosko Specman was dalk met ’n kort-kop die beste een van die aand se vier drieë. Hy het op sy linker-vleuel ’n lynskop gaan haal, die bal oor die verdediging geskop en die perfekte hop van die ovaalbal gekry. Hy het sy sewes-vaardighede ingespan en die bal weer vorentoe geskop, dit opgepik en met ’n pronkende duikpoging en die bal in sy regterhand dit op die doellyn geplant.

Dié drie het sy span vlugtig terug in die stryd gekry. Maar dit was ook net vlugtig.

Verskeie skrum-strafskoppe vir die Stormers het gesorg dat die Kapenaars in die tweede helfte steeds die botoon kon voer. Die Vrystaat-voorry het teen die Springbok-teenstand van Steven Kitshoff, Scarra Ntubeni en Frans Malherbe gesukkel.

Toe Bongi Mbonambi as haker saam met die jong plaasvervangerstutte, Leon Lyons en Sazi Sandi, opkom, het die Cheetahs steeds klippe in die skrums gekou.

Die Cheetahs het egter nooit moed opgegee nie en tot laat het hulle die Stormers met aanvalle gepeper. Soveel so dat Willemse met ’n geelkaart gestraf is – die enigste klad op ’n andersins vlekkelose vertoning.

Puntemakers

Stormers (30) Drieë: Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Warrick Gelant. Doelskoppe: Damian  Willemse (3). Strafdoele: Willemse (2). Skepdoel: Willemse.

Cheetahs (13) Drie: Rosko Specman. Doelskop: Tian Schoeman. Strafdoele: Schoeman (2).

Meer oor:  Super-Wedstryd  |  Stormers  |  Cheetahs  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.