Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers kry 3 nuwe ‘hoofafrigters’

Nee, John Dobson is nie afgedank nie, maar die Stormers het ’n nuwe hoofafrigter gekry. En hulle gaan in die maand nóg twee kry.

Rito Hlungwane, die voorspelerafrigter, neem waar vir 9 Maart se wedstryd teen Griekwas in Kimberley, waarna Labeeb Levy, die afrigter van vaardighede, aan die beurt is vir die 19de se wedstryd teen die Bulle. Dawie Snyman, die agterlynafrigter, vat op die 27ste teen die Leeus die leisels oor.

Rito Hlungwani. Foto: Gallo Images

Dobson het Dinsdag gesê dat hy steeds ’n oorsig oor sake sal hou.

“Maar ek het gedink dat ons, soos ons vir spelers geleenthede wil skep en diepte wil uitbou, dieselfde vir afrigters kan laat geld,” het hy gesê.

“Rito het hom as ’n goeie beier op junior- en klubvlak onderskei. Ons wil geleenthede skep en hierdie ouens blootstelling gee.”

Dobson voeg by dat hy steeds verantwoordelikheid sal neem vir die span se vertonings.

Ofskoon die betrokkenes nie ’n noemenswaardige tydperk kry om hul stempel as hoofafrigters af te druk nie, sê Dobson dit kan wel waardevolle ervaring en ’n leerskool wees.

Labeeb Levy. Foto: Gallo Images

“As ’n hoofafrigter word jy blootgestel aan dinge wat die hulpafrigters nie ervaar nie. Dit kan behels die kies of die pos van ’n speler, die plan vir ’n oefensessie en die bestudering van statistieke wat ’n satellietstelsel oplewer, die kommunikasie met die span, die bepaling van die week se temas, en die oordra van die plan en bespreking daaroor met die hulpafrigters,” sê hy.

“Dit kom daarop neer om vir Rito ondervinding te gee en insig te bied op wat ek doen. Dis nie iets wat jy onder gewone omstandighede in ’n toernooi kan doen nie. Hierdie word die ‘voorbereidingsreeks’ genoem. Daar is nie ’n puntelys of trofee op die spel nie.

Natuurlik speel ons vir die wen, maar ons moet by ons plan vir die reeks hou.

“Daar is steeds baie druk, wat goed is. Die werklikheid is dat ons teen ’n baie goeie Cheetahs-span verloor het.”

Hlungwani is in vir ’n vuurdoop teen die Poubloues, meen Dobson.

“Griekwas het weekliks baie slegte geluk en gaan omgesukkel wees. Ek kan nie aan ’n swakker tyd dink om teen hulle te speel as op ’n Dinsdagmiddag in Kimberley nie.

“Daarna gaan ons Loftus toe (vir die wedstryd teen die Bulle) en van die topspelers sal terugkeer. Teen die tyd wat ons teen die Leeus speel, sal die span op volle sterkte wees.

Dawie Snyman. Foto: Gallo Images

“So ons het vier baie moeilike wedstryde in die voorbereidingsreeks. Die druk is dus op ons om goed te speel en mededingend te wees.”

’n Groot vraag is natuurlik die strategie rondom plaasvervangers. Aan die een kant is die skep van geleenthede vir jong spelers deur hulle van die plaasvervangersbank op te stuur, ’n goeie ding, maar aan die ander kant kan dit ook die momentum van wedstryde verander en ’n nederlaag tot gevolg hê.

“Een van die ware tekens van wie aan beheer is, is wie die besluit neem oor wanneer plaasvervangers opgestuur word. Dit sal aan Rito oorgelaat word, maar die telbord moet nie die grootste oorweging wees nie,” sê Dobson.

“Teen Griekwas móét ons byvoorbeeld op loskopstut vir Kwenzo Blose ’n halfuur speelkans gee, al sal die versoeking daar wees om vir Ali Vermaak op die veld te hou.

“Wat in gedagte gehou moet word, is dat daar nie reekse vir ons tweedelinie-spelers was nie. Daar is spelers wat sedert Maart verlede jaar nog nie ’n sekonde se rugby gespeel het nie.

“Natuurlik speel ons vir die wen, maar ons moet by ons plan vir die reeks hou.”

Meer oor:  John Dobson  |  Dawie Snyman  |  Stormers  |  Labeeb Levy  |  Voorbereidingsreeks  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.