Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers kry vier bielies terug

Vir ’n verandering is daar vroeg in die week ’n stewige sarsie goeie nuus uit die Stormers se kamp.

John Dobson, die afrigter, het die opsie om sy span met Pieter-Steph du Toit, JD Schickerling, Marvin Orie en Ruhan Nel vir Saterdag se Reënboogbeker-wedstryd teen die Haaie op Kings Park in Durban te versterk.

Pieter-Steph du Toit, Wêreldrugby se heersende Speler van die Jaar, sal die Stormers aansienlik vir Saterdag se Reënboogbeker-wedstryd teen die Haaie op Kings Park in Durban versterk. Foto: Gallo Images

Du Toit, Wêreldrugby se heersende Speler van die Jaar, is gerus vir die afgelope naweek se wedstryd teen die Leeus, terwyl Schickerling en Orie se gedwonge afwesigheid beteken het dat Dobson onervare slotte moes inspan.

Nel was op sy beurt by die Blitsbokke, wat Dobson genoop het om Dan du Plessis op buitesenter te kies.

Du Plessis het hom skaflik genoeg van sy taak gekwyt, maar Nel is die senior middelveldspeler in die groep en sy leierskap agterlangs kan van onskatbare waarde wees.

JD Schickerling is ná twee weke langs die kantlyn met ’n enkelbesering weer fiks om vir die Stormers op te draf. Foto: Gallo Images
Ruhan Nel kan die Stormers broodnodige ervaring in hul middelveld gee. Foto: Gallo Images

Schickerling en Orie se terugkeer ná hul afwesigheid – onderskeidelik weens ’n enkelbesering en harsingskudding – behoort ’n gegewe te wees.

Hulle het die potensiaal om in Salmaan Moerat se afwesigheid in ’n gedugte kombinasie te ontwikkel. Dit behoort die Stormers se opsies in die lynstane en hul vermoë om op die Haaie se ingooie mee te ding aansienlik te versterk.

Tim Swiel behoort ook op losskakel terug te keer nadat hy ’n sleutelrol in ’n uitstekende terugvegpoging teen die Leeus gespeel het. Sy dwarsskop wat deur Edwill van die Merwe uit die lug gepluk is – toe die Stormers hulle op die agtervoet bevind het – was ’n sleuteloomblik wat die wedstryd in hul guns geswaai het.

In alle eerlikheid het Swiel nie juis die afgelope jaar die indruk gewek dat hy ’n langtermynoplossing in die nr. 10-trui aan die Stormers bied nie, maar in Kade Wolhuter se afwesigheid lyk dit asof hy in hierdie stadium meer lood in sy potlood as Abner van Reenen het.

Daar is seker ook ’n saak uit te maak vir Van Reenen.

Marvin Orie se terugkeer sal die Stormers weer ’n hemelbesem gee wat hul lynstaanbal kan beveilig. Foto: Gallo Images

Hy behoort beter te raak namate hy meer ervaring opdoen, maar terselfdertyd is die druk groot in ’n kort toernooi, waar daar min tussen die spanne te kies is, en sal Dobson waarskynlik minder geneë wees om met hom te waag. Moontlik bied die Curriebeker-reeks ’n beter geleentheid daarvoor.

Die Stormers het ook nog ’n buitekans om boaan die puntelys te eindig, maar ’n nederlaag Saterdag sal hulle waarskynlik ten beste om die tweede plek laat meeding.

Boonop het hulle ook ’n punt om te bewys.

’n Tugkomitee het ná die laaste wedstryd teen die Haaie bevind dat Willie Engelbrecht se tweede geelkaart en gevolglik ook sy rooie, ’n verkeerde beslissing was. Gegewe dat hulle toe net met 30-33 verloor het, kan die Stormers met goeie rede ook dink dat hulle maklik daardie wedstryd kon gewen het.

Tim Swiel het rede om te glimlag ná sy spel vir die Stormers teen die Leeus. Foto: Gallo Images

Dus is daar baie op die spel en die gehalte van die spelers wat na verwagting gaan terugkeer, sal hoop by Dobson-hulle skep dat die kastaiings nog uit die vuur gekrap kan word.

Meer oor:  Kaapstad  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Ruhan Nel  |  Marvin Orie  |  Rugby  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.