Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers leen losskakel by Griekwas

Het die Stormers genoeg losskakels van gehalte om ’n suksesvolle veldtog in vanjaar se Superrugbyreeks te hê?

Dít is die vraag wat gevra kan word nadat George Whitehead, trekvoël-losskakel van Griekwas, hom in die voorseisoen by die Stormers aangesluit het.

George Whitehead. Foto: Gallo Images

WP Rugby het die leenooreenkoms wat deur beserings genoodsaak is, Woensdag by navraag bevestig.

Whitehead, wat voorheen vir die Griffons, Cheetahs en die Kings uitgedraf het, is waarskynlik as versekeringspolis vir die Stormers se beseerde Jean-Luc du Plessis betrek. Hy het verlede jaar ’n heup-operasie ondergaan en dis onseker wanneer hy weer volle fiksheid sal herwin.

Whitehead en Josh Stander (aanwins van die Bulle) moet saam met die jong Damian Willemse, en Jean-Luc du Plessis die leemte vul wat Robert du Preez se vertrek na die Haaie gelaat het.

Du Preez het veral in die WP se seëvierende Curriebeker-veldtog van 2017 gewys dat hy ’n veelsydige losskakel van hoogstaande gehalte is.

Kurt Coleman, wat ook gereeld in die verlede Superrugby vir die Stormers gespeel het, draf deesdae vir die Southern Kings uit.

Hoeveel waarde Whitehead en Stander tot die Stormers kan toevoeg, is natuurlik ’n ander vraag.

Stander het in Pretoria gesukkel om gereeld vir die uitsoekspan van die sukkelende Blou Bulle te speel. Hy het slegs 112 minute se Curriebekerrugby in 2017 gespeel en sukkel met bestendigheid van die skopkegel af.

Whitehead, wat in die verlede gesukkel het om sy plek by ’n span vas te messel, het wel in die 2017-Curriebeker-seisoen in ’n staatmaker en puntemasjien vir die Griekwas ontpop.

Hy het met die meeste doelskoppe en strafdoele in verlede jaar se Curriebeker geslaag en was ook die grootste puntemaker. Hy is ook ’n ervare speler wat al Superrugby gespeel het.

Die jong, opwindende Damian Willemse sal waarskynlik die verantwoordelikheid hê om vanjaar agterlangs die toutjies vir die Stormers te trek.

Willemse het toeskouers verlede seisoen gaande gehad met sy aftrappe en flink verspreiding. Hy verdien ook meer krediet vir sy taktiese skopwerk.

Die afdelings van sy spel waaraan hy in die afseisoen egter hard sou werk, is sy stelskopwerk en verdediging.

Meer oor:  Stormers  |  Damian Willemse  |  Superrugby  |  Losskakel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.