Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers moet meer klavier speel
Dawie Snyman, die Stormers se agterlynafrigter. Foto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie moet nie uitermatig op sy skrumkrag staatmaak om wedstryde te wen nie, sê die Streeptruie se agterlynafrigter, Dawie Snyman.

“Ons het ander aspekte van ons spel wat ek weet baie goed is,” sê hy.

“Dis ’n kwessie van die regte balans vind – hoe ons kan aanpas by die situasie in die wedstryd en om dan die beste uit daardie scenario te kry.”

Met ’n Springbok-voorry van Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe tot hul beskikking, is dit net natuurlik dat die Stormers daardie faset tot hul voordeel sal aanwend.

Veral Malherbe het die Cheetahs verlede naweek op Nuweland só in die skrums verniel dat die besoekers hul loskopstut, Charles Marais, middeldeur die eerste helfte vervang het.

Die opwindende agterspel wat die Stormers teen Griekwas in Kimberley gelewer het, tesame met die oplewing in Damian Willemse se spelpeil op losskakel, wys egter dat hulle die potensiaal het om in ’n meer afgeronde span as tans te ontwikkel.

“Ons het deur ’n fase gegaan waar ons nie 100% seker was oor hoe om sekere scenario’s te speel nie en daar probleme met ons besluitneming was. Ek dink dis nou uitgeklaar,” sê Snyman.

Wat my opgewonde maak, is dat ons kan aanpas. As dit ’n oop wedstryd is kan ons daarby aanpas, terwyl ons goed kan verdedig as die situasie dit verg.
Dawie Snyman

“Wat my opgewonde maak, is dat ons kan aanpas. As dit ’n oop wedstryd is kan ons daarby aanpas, terwyl ons goed kan verdedig as die situasie dit verg. Indien ons met ons voorspelers spanne in die vaste fasette onder druk moet plaas, kan ons dit óók doen.”

Damian WIllemse glimlag weer ná sy goeie vertoning vir die Stormers teen die Cheetahs. Foto: Gallo Images
Warrick Gelant het ’n invloedryke speler vir die Stormers en Westelike Provinsie geword. Foto: Gallo Images

Daar’s nog baie ruimte vir verbetering in die Stormers se agterspel. Die sleutel daarvoor lê straks by Willemse, wat ná ’n onseker begin in die Stormers se Superrugby-veldtog baie goed was in die sege van 30-13 oor die Cheetahs.

Snyman meen dis deels te danke aan die leiding wat die heelagter-aanwins, Warrick Gelant, gee. Die 25-jarige Gelant troon uit as die Stormers se beste agterspeler.

“Warrick is baie ervare op Superrugby-vlak en het vir die Springbokke in die Wêreldbeker-toernooi gespeel. Ons vertrou sy kennis en slaan ag op sy insette,” sê Snyman.

“Sy leierskap op die veld is fenomenaal. Hy bring kalmte en gee leiding aan van die jong agterspelers. Damian begin nou beter speel en ek dink dit het baie te doen met Warrick wat hom help en vir hom goeie inligting gee.”

Damian begin nou beter speel en ek dink dit het baie te doen met Warrick wat hom help en vir hom goeie inligting gee.
Dawie Snyman

Die WP se eerste wedstryd in vanjaar se CB-reeks teen die Bulle volgende Saterdag kan ook die laaste teen die aartsvyand op Nuweland wees indien dié spanne mekaar nie daar in die uitspeelrondes aantref nie.

Snyman verwag dit sal ’n “massiewe wedstryd” wees en die WP sal beslis wil vergoed vir die Stormers se nederlaag van 6-39 op Loftus verlede maand. In daardie wedstryd het dit meer as ’n uur geneem voordat die Stormers ’n skrumvoer gekry het, wat Snyman se punt staaf dat hulle nie noodwendig daarop kan staatmaak nie.

“Krediet aan die Bulle. Hulle het in 60 minute nie ’n fout gemaak nie. Ons verdediging was egter ook nie goed op die dag nie. Ons het hulle nie onder genoeg druk geplaas om foute te maak nie. Hulle was fenomenaal,” sê hy.

• Die Stormers gaan dalk hul kaptein, Siya Kolisi, en die vleuel Seabelo Senatla fiks hê vir die kragmeting.

Meer oor:  Warrick Gelant  |  Damian Willemse  |  Dawie Snyman  |  Stormers  |  Bulle  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.