Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers se agttal verwag ‘toetsrugby’
Steven Kitshoff (met die bal) gaan Saterdag behoorlik deur die Springbok-spanmaat Trevor Nyakane getoets word. Foto: Getty Images

Vriende by die Springbokke, maar Saterdag speel Steven Kitshoff en Trevor Nyakane “toetsrugby” teen mekaar wanneer die Bulle en Stormers mekaar in ’n Superrugby Unlocked-wedstryd op Loftus Versfeld in Pretoria pak.

Kitshoff keer vandeesweek terug as die Stormers se loskopstut, neem die kapteinskap by die beseerde Siya Kolisi oor én moet as teenvoeter dien vir Nyakane se skrumkrag aan die vaskopkant van die Bulle se voorry.

Nyakane was verlede week op die plaasvervangersbank en het die gety gedraai in ’n skrumstryd wat die Bulle aan die verloor was teen die Haaie. Die Bulle het danksy hul omgesukkelde pak voorspelers uiteindelik gemaklik met 41-14 gewen.

Daarmee het die Bulle ook vir die Stormers die boodskap gestuur dat hulle hierdie naweek moeilik getem gaan word.

In ’n Superrugby-wedstryd is hierdie die naaste wat jy aan ’n toets sal kom met twee sterk pakke voorspelers, wat mekaar gaan opdreun.
Steven Kitshoff

“In ’n Superrugby-wedstryd is hierdie die naaste wat jy aan ’n toets sal kom met twee sterk pakke voorspelers, wat mekaar gaan opdreun.

"Daar gaan waarskynlik ook baie om balle in die lug meegeding word,” het Kitshoff Donderdag met die bekendmaking van die Stormers se opdrafspan op ’n aanlyn konferensie gesê.

Die Springbok-vaskopstut Trevor Nyakane wag vir die Stormers op Loftus. Foto: Gallo Images

Hy meen Nyakane baat veral by die afrigting wat hy van die skrumghoeroe Daan Human gekry het.

“Trevor se spel het onder Daan Human ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Jy kon dit op die veld sien en dis waarom hy verlede jaar in die groep vir die Wêreldbeker-toernooi was. Hy het sy stempel teen Superrugby-agttalle afgedruk,” sê Kitshoff.

“Ek weet nie hoe sy kondisionering is nie, maar weet hy kan ’n goeie wedstryd speel. Ek sien uit daarna om weer teen hom te speel. Dit gaan interessant wees.”

Seker die grootste kollektiewe uitdaging vir die Stormers gaan by die afbreekpunte wees. Dáár het die Bulle verlede naweek sonder veel moeite die kitaar geslaan teen die Haaie.

John Dobson, afrigter van die Stormers, besef hoe moeilik dit gaan wees teen ysters soos Duane Vermeulen, Marco van Staden en Elrigh Louw.

Uiteraard weet ons dat Marco en Duane baie goed balle steel. Ons het hierdie week daarvoor geoefen.
John Dobson

“Ons is bewus van die bedreiging by die afbreekpunte. Hulle het ses van die Haaie se balle omgekeer, en die Haaie vier van hulle s’n. Uiteraard weet ons dat Marco en Duane baie goed balle steel. Ons het hierdie week daarvoor geoefen,” sê Dobson.

“Dit gaan ’n groot stryd wees. Aan ons kant is Jaco Coetzee, Steven Kitshoff en Bongi Mbonambi baie goeie baldiewe.”

Jaco Coetzee vroeër vandeesweek op die oefenveld vir die Stormers in Bellville. Hy vervang die Stormers se beseerde kaptein, Siya Kolisi, in die span vir die wedstryd teen die Bulle op Loftus Saterdag. Foto: Gallo Images

Coetzee kry sy kans omdat Kolisi én Nama Xaba beseer is. Gemeet aan wat hy tot nou toe in sy jong loopbaan gewys het, behoort hy nie derde op die Kaapse ranglys in sy posisie te wees nie.

Inteendeel, ’n mens wil jou verstout om te sê dat hy op enige dag in die beginspan hoort – of op flank of agtsteman – maar hy moet daardie punt nou met sy spel bewys.

Die Stormers kan ook sterk mededinging op hul ingooie in die lynstane verwag by “Bullebakke” soos Vermeulen, Jason Jenkins en Ruan Nortjé.

“Ons probleem is nie as sodanig die verlies van lynstaanbesit nie. Dis eerder ’n geval dat ons dit nog nie deurlopend as ’n platform vir aanvalle kon gebruik nie, omdat ons soms deur morsige spel die besit prysgee,” sê Dobson.

“Ek is nou in my noppies met hoe dit met ons dryfmale gaan. Hierdie gaan ’n klassieke stryd tussen die voorspelers wees.”

Die Stormers is:
 Warrick Gelant, Edwill van der Merwe, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Leolin Zas, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Jaco Coetzee, JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS UIT: Scarra Ntubeni, Leon Lyons, Neethling Fouché, Chris van Zyl, David Meihuizen, Marcel Theunissen, Ben-Jason Dixon, Godlen Masimla, Tim Swiel, Angelo Davids, Tristan Leyds.

 

Meer oor:  John Dobson  |  Steven Kitshoff  |  Trevor Nyakane  |  Loftus  |  Kaapstad  |  Pretoria  |  Rugby  |  Bulle  |  Stormers  |  Springbokke  |  Unlocked-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.