Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers se skouers hang nie

Om ’n wedstryd weg te smyt soos die Stormers Saterdag in die Kaapstad-stadion teen die Haaie gedoen het, het die Kapenaars se afrigter, John Dobson, met goeie rede ontstel.

Nietemin was daar ook groen lote in dié nederlaag, wat aan die tuisspan se swak dissipline toegeskryf kon word eerder as enigiets skouspelagtig waarmee die Haaie vorendag gekom het.

Herschel Jantjies rond die Stormers se eerste drie af, maar hul goeie werk vroeg in die wedstryd is deur swak dissipline ongedaan gemaak. Foto: Gallo Images

Soos Dobson met die bekendmaking van sy span vir dié Reënboogbeker-wedstryd voorspel het, is daar ná die wedstryd oor sy nr. 6-flank, Nama Xaba, gepraat.

Gemeet aan Xaba se spel by die afbreekpunte in die nederlaag van 30-33, kan die Stormers uitsien na ’n blink toekoms met hom eerder as om ontstig te wees oor die verlies van die Springbok-kaptein, Siya Kolisi.

Kolisi was invloedryk as ’n spelskepper vir die Haaie, maar Xaba bring as baljagter vir die Stormers ’n dinamika wat ’n hele ruk al in hul losvoorspeler-kombinasie ontbreek.

Nama Xaba het die oog getref met sy goeie spel by die afbreekpunte vir die Stormers. Foto: Gallo Images

“Ek dink sy spel was een van ons hoogtepunte,” het Dobson dit opgesom.

“Hy het ’n paar balle gesteel en dikwels ook gesorg dat die Haaie se besit stadig is. Hy het ons besit ook goed opgepas en die bal goed gedra. Hy was besonder goed.”

Die slotaanwins, Marvin Orie, het ook skaflik vertoon en veral goed gevaar by die afskoppe. Dan het die Stormers ook voortgebou op die goeie hardlooprugby wat hulle by tye in hul voorbereidingswedstryde gespeel het.

Om die wedstryd te verloor, was nietemin ’n bitter pil nadat die Stormers voor Seabelo Senatla se rooikaart met 17-0 voor was. Willie Engelbrecht het vroeg in die tweede helfte ook die trekpas gekry, maar die Stormers kon danksy die proefreël dat hulle ná 20 minute vervang kon word weer op dreef kom.

Trouens, het Ruhan Nel nie die bal in die doodsnikke in die Haaie se doelgebied aangeslaan nie, sou die gesprek oor ’n baie goeie oorwinning gewees het.

Nel het sy spanmaats in die kleedkamer om verskoning gevra vir sy flater. Dobson meen nie dit was die rede vir die nederlaag nie.

“Ruhan het niks gedoen waaroor hy jammer hoef te wees nie. Ons moet eerder na ander dinge kyk – volg ons skoppe vinnig genoeg op en hoe is ons werkverrigting van die bal af?”

Dan is daar natuurlik die swak dissipline. Ná Engelbrecht se eerste geelkaart het die Stormers vir byna tien minute net 13 spelers op die veld gehad.

Siya Kolisi het die Stormers dalk verlaat, maar bly gewild onder sy oudspanmaats. Foto: Gallo Images

“Hulle kon net sewe punte teen ons ses in daardie tyd aanteken, wat getuig van die karakter wat ons gewys het,” sê Dobson.

“Ons moes die tempo stadiger maak. Voor dit het ons met goeie ritme op die aanval gespeel en skielik moes ons die energie in ons spel prysgee.

“Ek dink nie ons het tot voor die laaste paar minute weer daardie energie herwin nie. Ons wou aantreklike rugby speel, maar daardie kaarte het ons gekelder. Dit was baie teleurstellend, maar ten volle ons eie skuld.”

Die Stormers hou nou asem op oor die diagnose van veral Kade Wolhuter se kniebesering. Daar word verwag dat hy lank buite aksie gaan wees. Hy behoort deur Abner van Reenen vervang te word vir Saterdag se wedstryd teen die Bulle in die Kaapstad-stadion.

Die slot JD Schickerling het ook ’n seer enkel wat hom dalk hierdie week langs die kantlyn kan hou.

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.