Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers se slotpaar ‘slagoffers’
JD Schickerling tydens die Groen vs. Goud-wedstryd op Nuweland.

Salmaan Moerat en JD Schickerling is twee van die grootste verloorders ná die aankondiging in die week dat die Springbokke nie aan vanjaar se Rugbykampioenskap in Australië deelneem nie.

Een of albei van hulle kon volgens Rapport se inligting in die beseerde Lood de Jager en RG Snyman se afwesigheid hul buiging vir die Springbokke tussen 7 November en 12 Desember in Australië gemaak het.

Die slotpaar van die Stormers, die 25-jarige Schickerling en 22-jarige Moerat, was saam met die 27-jarige Leeu Marvin Orie die sterkste aanspraakmakers om saam met Franco Mostert en Eben Etzebeth (sou hy vry van beserings wees) in die Bok-groep van 46 spelers ingesluit te word.

Die Bokke sou volgens ’n nuusverklaring van SA Rugby vandag na Australië vertrek.

Die Bok-bestuurspan onder die hoofafrigter, Jacques Nienaber, het ook die 26-jarige Nicolaas Janse van Rensburg van die Franse klubspan Montpellier en die 25-jarige Durbaniet Hyron Andrews as moontlike plaasvervangers vir De Jager en Snyman oorweeg.

Soos Schickerling en Moerat het Janse van Rensburg en Andrews nog nie toetsrugby gespeel nie.

Orie het wel in 2018 onder Nienaber-hulle sy Bok-buiging gemaak. Hy was selfs saam met onder meer die losvoorspeler Rynhardt Elstadt en senter André Esterhuizen tot op die nippertjie in die prentjie om aan verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan deel te neem.

Salmaan Moerat (middel).

Met die Bokke wat nie meer in die toetse teen Australië en Nieu-Seeland sal speel nie, is daar nuuskierigheid oor wie Nienaber-hulle in beseerdes se plekke soos dié van Handré Pollard sou kies, asook wie in die binnebaan is om

Beast Mtawarira, Schalk Brits en Francois Louw op te volg nadat hulle uit internasionale rugby getree het.

Die Haaie se Ox Nche was volgens Rapport se inligting in die binnebaan om Mtawarira te vervang, terwyl die Bulle se Lizo Gqoboka nog van ’n kuitbesering herstel.

Scarra Ntubeni het verlede jaar sy Bok-buiging gemaak en kon vandag saam met Malcolm Marx en Bongi Mbonambi as die hakers op die vliegtuig na Australië geklim het. Sale Sharks het ook onlangs bevestig dat Akker van der Merwe een van die hakers is wat in Nienaber-hulle se vergrote planne is.

Afgesien van Elstadt, wat weer betrek kon word, sou Nienaber-hulle dit moeilik vind om nie plek te vind vir Sikhumbuzo Notshe in hul groep van 46 spelers ná Louw se uittrede nie.

Elton Jantjies was Pollard se adjudant in die Wêreldbeker en is as ’n vanselfsprekende keuse vir die 46-tal beskou. Die Haaie se Curwin Bosch sou ook ’n sterk aanspraakmaker wees om Jantjies se adjudant in die Rugbykampioenskap te wees.

Nienaber-hulle het wel die opsie gehad om die ervare Frans Steyn van die Cheetahs as ’n losskakel te oorweeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.