Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers skeur draaiboek op Doer Onder
Ruhan Nel (regs) vier ’n drie saam met Damian Willemse (links) en Sergeal Petersen in die Stormers se sege van 41-24 oor die Rebels in Melbourne Vrydag. Foto: Getty Images

Wie het dít sien kom? Gegewe hul gesukkel op toer in die voorafgaande weke en ’n rits beserings, is daar gevrees dat die Stormers Vrydag verneder en hul beleërde afrigter, Robbie Fleck, vroeg aanstaande week gepos sou word.

Die Kapenaars het egter nie dié draaiboek gelees nie. Inteendeel, hul vertoning in Vrydag se sege van 41-24 oor die Rebels in Melbourne kan net as heldhaftig beskryf word.

Nou keer die Kapenaars terug huis toe met ses van hul oorblywende agt wedstryde in vanjaar se Superrugby-reeks wat by Nuweland gespeel gaan word. Skielik kan dié span selfs lugkastele begin bou oor ’n plek in die uitspeelrondes.

Wat dié sege meer indrukwekkend maak, is dat die Stormers voorlangs erg gekniehalter is. Hulle het dié onwaarskynlike oorwinning vermag sonder sleutelspelers soos Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi én JD Schickerling.

Dillyn Leyds

Die Stormers kon die wedstryd nie beter begin het nie, met Dillyn Leyds wat in die derde minuut reeds tussen drie verdedigers deur gehardloop het om die eerste van hul vyf drieë aan te teken.

Vir die res van die eerste helfte was die Stormers meestal op die agtervoet en het hulle by die 100 duikslae gemaak om die Rebels van hul doellyn af weg te hou. ’n Paar keer het hulle – met die Rebels vlak voor hul doellyn – vir 15 fases verdedig voordat die Aussies ongeduldig geraak en aangeslaan het.

Die Kapenaars het van begin tot einde ook verwoed by die afbreekpunte om besit meegeding. Dáár verdien Bongi Mbonambi, Jaco Coetzee en Sergeal Petersen groot lof.

Ongelukkig het die ou kwaal van ongedwonge foute weer in die eerste helfte kop uitgesteek, maar die Stormers was in die tweede helfte só goed dat dit uiteindelik nie saak gemaak het nie.

Die afwesigheid van Du Toit, Etzebeth en Schickerling was by die lynstane gevoel. Terwyl die Kapenaars nie besit daar afgestaan het nie, was die gehalte van hulle bal swak.

Die afwesigheid van Du Toit, Etzebeth en Schickerling was by die lynstane gevoel. Terwyl die Kapenaars nie besit daar afgestaan het nie, was die gehalte van hulle bal swak.

By die afskoppe het dit ook nie goed gegaan nie en die Stormers het ná Leyds se drie en Jean-Luc du Plessis se strafdoel elke keer die bal prysgegee.

Maar hulle het meer as hul man op die verdediging gestaan en die uiteinde daarvan was ’n voorsprong van 10-3 met rustyd.

As die Stormers ’n droom begin gehad het, kon dit in die eerste paar minute van die tweede helfte nie met hulle slegter gegaan het nie.

Du Plessis se wilde aangee is deur Reece Hodge onderskep om die Rebels gelyk te laat trek en kort daarna moes Coetzee die veld verlaat met wat gelyk het soos ’n ernstige kniebesering.

Juarno Augustus

Die man wat hom vervang het, Juarno Augustus, was egter uitstekend en die Stormers het binne 15 minute 24 punte aangeteken danksy verdoelde drieë deur Augustus, Damian de Allende en Ruhan Nel, asook ’n strafskop deur Josh Stander.

Leyds se toorkuns was deurslaggewend in die Augustus en De Allende se drieë, terwyl Nel afgerond het nadat Quade Cooper nie Josh Stander se dwarsskop kon bemeester nie.

Daarna moes die Rebels noodgedwonge inhaalrugby speel. Jy kon hulle nie afskryf nie, want die Stormers het hulself voos geduik en was duidelik uitgeput.

Genia en Campbell Magnay het albei afgerond vir drieë, maar die laaste sê het aan Nel behoort met ’n onderskepdrie.

Puntemakers: Stormers 41 (10): Drieë: Dillyn Leyds, Juarno Augustus, Damian de Allende, Ruhan Nel (2). Doelskoppe: Jean-Luc du Plessis (2), Josh Stander (3). Strafdoele: Du Plessis, Josh Stander.

Rebels 24 (3): Drieë: Reece Hodge, Will Genia, Campbell Magnay. Doelskoppe: Quade Cooper (3). Strafdoel: Cooper.

Meer oor:  Robbie Fleck  |  Dillyn Leyds  |  Ruhan Nel  |  Melbourne  |  Kaapstad  |  Rebels  |  Rugby  |  Superrugby  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.