Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers skrik groot in Mbombela

Vir meer as ’n uur het die grootste verleentheid in die Stormers se geskiedenis gedreig, maar ’n skouspelagtige laaste 20 minute waarin hulle vier drieë gedruk het, het die Kapenaars van die rand van ’n diep afgrond gered in Vrydagaand se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Pumas in Mbombela.

Die Pumas se kaptein, Pieter Jansen van Vuren, het van voor gelei in ’n goeie vertoning teen die Stormers.Foto: Gallo Images

Die Stormers was ná ’n uur se spel nog met 14-37 agter, maar verdoelde drieë deur Neethling Fouché, Bongi Mbonambi, Leolin Zas en Warrick Gelant het aan hulle ’n broekskeur-oorwinning van 42-37 besorg.

Maar sjoe, dit was seker die grootste skrik wat die Kapenaars se afrigter, John Dobson, tot nog toe op die lyf gejaag is. Hy sou ’n groot nederlaag moeilik aan die Westelike Provinsie Rugbyunie se wispelturige uitvoerende komitee kon verduidelik

In die eerste helfte kon die Stormers eenvoudig nie hul voete vind nie. Die Pumas het hulle in elke faset van die spel oordonder. Die tuisspan het hul pad moeiteloos deur die Stormers se verdediging gevind, was gemaklik die Kapenaars se baas by die afbreekpunte en het hul speelwerk in die regte areas van die veld gedoen.

Die Stormers kon in die eerste helfte nie vir ’n oomblik tot verhaal kom nie. Hulle was vroeg op die voorvoet nadat Herschel Jantjies ’n skop deur Devon Williams afgestorm het en Rikus Pretorius kon afrond.

Met Tim Swiel se doelskop was die telling 7-3, maar daarna is die Stormers van hul voete af gespeel deur ’n begeesterde Pumas-span.

Die momentum het geswaai toe Neil Maritz ’n los aangee deur Juarno Augustus onderskep het vir ’n drie om die telling ná slegs sewe minute se spel 10-7 te maak.

Daarna het die Pumas ons getrakteer op ’n kombinasie van puik taktiese spel en hardlooprugby.

Jantjies het deur die loop van die eerste helfte afgerond om dit vlugtig 14-23 te maak, maar daardie verligting was net van korte duur.

Die Pumas het in die minute voor rustyd ook ’n groot sielkundige hupstoot gekry deur etlike aanvalle van die Stormers af te weer.

Met rustyd was dit 30-14 vir die tuisspan en het ’n roemryke aand vir Jimmy Stonehouse se troepe gewink.

Die Stormers het vroeg in die tweede helfte die geleentheid gehad om momentum te kry toe die Pumas hul puik agtsteman, Jeandré Rudolph, vir 10 minute aan ’n geelkaart afgestaan het.

Maar in stede daarvan was die Pumas met 14 spelers op die veld steeds op hul kop en het Maritz sy tweede drie afgerond nadat hulle geduldig aangeval het.

Dit het ’n verleentheid vir die Stormers begin raak, maar plaasvervangers soos JD Schickerling, Fouché en Jaco Coetzee het vir hulle inspirasie gegee.Hul voorspelers het die laaste kwart oorheers en die akkuraatheid wat só lank ontbreek het was skielik daar om die kastaiings skouspelagtig uit die vuur te krap.

Puntemakers:

Pumas 37 (30): Drieë: Neil Maritz (2), Jeandré Rudolph, Wayne van der Bank. Doelskoppe: Eddie Fouché (2), Niel Marais (2). Strafdoel: Fouché (3).

Stormers 42 (14): Drieë: Rikus Pretorius, Herschel Jantjies, Neethling Fouché, Bongi Mbonambi, Leolin Zas, Warrick Gelant. Doelskoppe: Tim Swiel (6).

Meer oor:  Pumas  |  Superrugby Unlocked  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.