Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers steeds op ‘regte pad’, sê Dobson
David Meihuizen kan vir die Stormers in die komende weke ’n belangrike speler wees gegewe hul beseringskrisis op slot. Foto: Gallo Images

Op die keper beskou is daar ná Saterdagaand se Reënboogbeker-wedstryd teen die Bulle vir die Stormers geen rede tot paniek oor die koers wat hulle besig is om in te slaan nie.

Hulle het allermins in hul eerste twee wedstryde teen die Haaie en Bulle skandes gemaak en kon albei kragmetings in die Kaapstad-stadion met ’n bietjie meer geluk en beter uitvoering gewen het.

Die geluksgodin is inderdaad nie hul afrigter, John Dobson, se beste vriend nie. Daar is ook nou kommer oor die Sprinbok-slot Marvin Orie, wat vermoedelik harsingskudding in die eerste helfte van die nederlaag met 16-20 nederlaag opgedoen het. Daarmee het die Stormers nou in hom, JD Schickerling en Salmaan Moerat drie slotte op die krukkelys.

Die verlies van Orie het die Stormers kwesbaar in die lynstane gemaak en die Bulle het dit baie goed uitgebuit.

Tog het die Kapenaars elke geleentheid gehad om dié wedstryd te wen, maar hulle vasgeloop in ’n Bulle-span wat eenvoudig nie bereid was om bes te gee op die verdediging nie.

Abner van Reenen, wat briljant op losskakel was in die Stormers se voorbereidingswedstryd teen die Leeus, het in die drukkoker van hierdie noord-suid-kragmeting nie die mas opgekom nie.

Dobson het egter vir hom in die bres getree.

Om dan onder groot druk hierdie soort wedstryd te speel, het stres op hom gelaai. Hy was baie senuweeagtig voor die wedstryd.
John Dobson

“Abner het in meer as ’n jaar maar min rugby gespeel. Om dan onder groot druk hierdie soort wedstryd te speel, het stres op hom gelaai. Hy was baie senuweeagtig voor die wedstryd,” sê Dobson.

“Om Abner ná so min rugby die afgelope jaar teen twee Springbok-skakels te laat speel en hom op grond daarvan negatief te wil beoordeel, is onregverdig. Hy het ook baie goeie dinge gedoen. Maar daar’s beslis baie om aan te skaaf.”

Dobson meen sy spelers het alles ingesit en wil nie onnodig die snoeiskêr inlê met spankeuses nie.

“Ek dink ons plan die afgelope twee weke was in die kol. Die telbord maak seer, maar ons almal weet hoe die wedstryde verloop het,” sê hy.

“Ons poog om teen ’n hoë intensiteit te speel en die bal in spel te hou. Ons probeer ons speelstyl ontwikkel en ek dink Ellispark is ’n goeie plek daarvoor. Die Leeus word ook aan daardie soort rugby geken. Ons wil aantreklike rugby speel. Dis waaraan ons in die Reënboogbeker wou werk.”

Dobson is reg dat sy span nie in sak en as hoef te wees nie, maar om twee tuiswedstryde te verloor, laat hulle op ’n moeilike plek.

Paul de Wet is waarskynlik die Stormers se beste opsie op skrumskakel in Herschel Jantjies se afwesigheid. Foto: Gallo Images

Daar word darem verwag dat die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies sal terugkeer. Godlen Masimla se swak besluit om ’n tikskoppie van ’n strafskop te neem en in verkeer in te hardloop het die Stormers die omkeerbesit gekos waarvan die Bulle hul eerste drie gedruk het.

Vir die soort rugby wat Dobson wil speel, is Paul de Wet waarskynlik ’n beter opsie as tweede skrumskakel.

Hoe dit ook al sy, het Dobson nie geloof in sy span verloor nie.

“Ek dink nie daar kan gesê word dat die Stormers deeglik geklop is nie. Ons is ondanks al die ontwrigting mededingend,” sê hy.

“Ons het nou twee wedstryde agter die rug wat ons kon gewen het en dit eis ’n tol op die spelers. Die uitdaging is nou om die spelers sielkundig opgewonde te kry en die span bymekaar te hou. Hopelik lyk die beseringslys nie só sleg as verlede week nie en word ons ook skorsings gespaar.”

Meer oor:  John Dobson  |  Kaapstad  |  Afrigter  |  Rugby  |  Stormers  |  Reenboogbeker-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.