Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers t. Leeus: Senters in die soeklig
Kan Rikus Pretorius as ’n Stormer die belofte gestand doen wat hy op o.20-vlak gewys het? Foto: Gallo Images

Rikus Pretorius en Daniel du Plessis is albei in die vroeë stadium van hul rugbyloopbaan vir groot dinge gesalf en nou is die vraag of hulle saam daardie potensiaal kan verwesenlik.

Dit nadat hulle as die Stormers se senterkombinasie gekies is vir Saterdag se “Superfan”-wedstryd teen die Leeus op Loftus Versfeld in Pretoria.

Du Plessis (25) het in 2015 reeds vir die Junior Springbokke gespeel en die belofte wat hy dáár getoon het, kon nog net sporadies op senior vlak gesien word omdat hy bloots deur beserings gery is.

Op sy beurt het Pretorius (21) die afgelope twee seisoene by die Junior Bokke gedraai. Die Covid-19-pandemie was vir sy loopbaan eintlik ’n bedekte seën, want dit het beteken dat die toetsveteraan Jamie Roberts, wat hom uit die span gehou het, moes terugkeer na Wallis.

Roberts se kamee by die Stormers was eintlik maar ’n bevestiging dat sy beste jare op die speelveld agter hom is en Pretorius kan ewe veel, indien nie meer nie, momentum met die bal in die hand skep.

Du Plessis is self ’n fisieke kalant en is baie gevaarlik op die aanval. Hy kry danksy ’n ligte besering aan Ruhan Nel ’n kans om homself op buitesenter te bewys.

“As Dan op die veld kan bly, gaan hy ’n Springbok word. Hy sal hom as een van die beste senters in Suid-Afrika onderskei,” voorspel John Dobson, die Stormers se afrigter.

“Vroeër vanjaar, toe daar nog ’n SuperSport-uitdaagreeks gespeel sou word, het ons ’n paar voorwedstryde gehad waarin hy absoluut briljant was. Hy kan sowel buite- as binnesenter speel.

“Ons almal weet Rikus het ’n blink toekoms. Ek het ’n paar van die wedstryde gekyk waarin hy vir die SA o.20-span gespeel het en hy was ’n reus op daardie vlak.

“Ek dink hierdie is ’n opwindende kombinasie.”

Michal Hazner, ’n aanwins van Griekwas, hoop ook nog op ’n geleentheid en gaan dit van die plaasvervangersbank af kry.

“Ruhan moet nog terugkeer en Michal is ’n baie sterk senter, oor wie ek werklik opgewonde is. Senter was aan die begin van dié jaar ’n probleemarea, maar ons lyk nou heel skaflik daar.”

In die Leeus se middelveld vorm die ervare Burger Odendaal ’n kombinasie met die opwindende Wandisile Similane, wat die Westelike Provinsie ook graag Kaap toe wou lok.

Of Pretorius en Du Plessis aan die verwagtinge gaan voldoen, sal gesien moet word en dié wedstryd is ’n goeie kans om hulself te meet teen gedugte direkte teenstanders. Terselfdertyd gaan hulle slegs met tyd ontwikkel en kan daar dalk ook ’n paar groeipyne wees.

Die Leeus behoort ook hul senterkombinasie af te wissel met Dan Kriel, Manuel Rass en EW Viljoen op die plaasvervangersbank.

Viljoen veral sal ’n punt hê om te bewys nadat sy loopbaan ná ’n baie goeie begin by die WP in ’n doodloopstraat beland het.

Vir Dobson en Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus, is hierdie gewis ’n geleentheid om hul beskikbare sentertalent onder die loep te neem.

Stormers: Warrick Gelant, Leolin Zas, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Seabelo Senatla, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Leon Lyons, Neethling Fouché, Chris van Zyl, Nama Xaba, Hannes Gouws, Paul de Wet, Tim Swiel, Michal Hazner, Angelo Davids, Tristan Leyds.

Leeus: Divan Russouw, Sibahle Maxwane, Wandisile Similane, Burger Odendaal, Courtnall Skosan, Elton Jantjies (k), André Warner, Hacjivah Dayimani, Vincent Tshituka, Jaco Kriel, Marvin Orie, Ruben Schoeman, Ruan Dreyer, Jaco Visagie, Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Sti Sithole, Jan-Henning Campher, Carlu Sadie, Wilhelm van der Sluys, Reinhard Nothnagel, MJ Pelser, Franckle Horn, Len Massyn, Dillon Smit, Gianni Lombard, Stean Pienaar, Dan Kriel, Manuel Rass, Jamba Ulengo, EW Viljoen.

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen

Assistent-skeidsregters: Aimee Barrett-Theron en Morné Ferreira

TV-skeidsregter: Willie Vos

TV: 19:00 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN

Meer oor:  Stormers  |  Superfan  |  Altus Momberg  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.