Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers van sielloos tot besielend
Abner van Reenen, losskakel van die Stormers, kry die bal net betyds weg in Saterdag se wedstryd teen die Leeus in die Kaapstad-stadion. Foto: Gallo Images

Van sielloos op die aanval in die Unlocked Superrugby- en Curriebeker-reeks, tot besielend met die bal in die hand in hul voorbereidingswedstryde.

Nou, ná ’n wegholsege van 44-12 oor die Leeus in die Kaapstad-stadion Saterdagaand, is die groot vraag wat die Stormers as hul wenresep vir die komende Reënboogbeker-veldtog gaan beskou.

In die CB-reeks, in die kleure van die Westelike Provinsie, was die klem op die vaste fasette en veldgebied, maar uitnemendheid en avontuurlustigheid is in die proses in drein afgespoel.

“Wat belangrik gaan wees, is die afwisseling tussen die twee,” het Dawie Snyman, die Stormers se waarnemende hoofafrigter, die naweek gesê.

Steven Kitshoff is tot meer in staat as om net goed te skrum. Hy kan die bal skuif en het ’n goeie aanvoeling vir ruimte.
Dawie Snyman

“Ons weet dat ons voorspelers van wêreldgehalte het, maar dis ook ouens wat goeie rugby kan speel. Steven Kitshoff is tot meer in staat as om net goed te skrum. Hy kan die bal skuif en het ’n goeie aanvoeling vir ruimte.”

Die perspektief wat op die WP se benadering in die CB-reeks gebied moet word, is dat daar gepoog is om ’n raamwerk te skep vir toestande wat in die Noordelike Halfrond in die Pro16-reeks verwag kan word. Ongelukkig het die Stormers se aanvallende spel in die proses gely.

“Ons wou in die voorbereidingsreeks daardie aspek van ons spel opknap,” het Snyman gesê.

“Nou sal ons kyk na wat toepaslik is vir die wedstryde wat ons speel en wat ons benadering moet wees om te wen. Ons sal daarby probeer aanpas.”

Wat baie sal help, is die antwoorde wat die Stormers op losskakel gevind het. Kade Wolhuter het in die beginspan uitgeblink in die nr.10-trui in hul eerste drie voorbereidingswedstryde, voordat Abner van Reenen groot indruk teen die Leeus gemaak het.

Van Reenen was goed op die aanval en sy skopwerk – uit die hand en pale toe – was skitterend.

“Ek is baie bly vir Abner se onthalwe,” het Snyman gesê.

Dis altyd lekker as ’n jong speler sy geleentheid aangryp en ’n vertoning lewer, soos Abner gedoen het.
Dawie Snyman

“Die ouens om hom het hom ook baie goed ondersteun. Damian (Willemse) het die hele week saam met hom gewerk en dis altyd lekker as ’n jong speler sy geleentheid aangryp en ’n vertoning lewer, soos Abner gedoen het.”

Ofskoon Van Reenen en Wolhuter moeiliker eksamens in Europa sal skryf, is Snyman optimisties dat hulle die pyp kan rook.

“Dis moontlik as jy goed vaar met Elton Jantjies as jou direkte teenstander (teen die Leeus), en in Kade se geval die vorige naweek (teen die Bulle) op Loftus Versfeld.

“Natuurlik sal hulle in groter wedstryde onder groter druk getoets word en ons moet seker maak dat ons aanhou om hard saam met hulle te werk.

Evan Roos, ’n leenspeler van die Haaie, was ’n yster vir die Stormers as agtsteman teen die Leeus. Foto: Gallo Images

“Dit gaan egter nie net oor hulle nie. Dit gaan oor hoe goed die ouens om hulle speel, sodat die druk op hulle aansienlik verlig word.”

Nóg ’n groot uitblinker Saterdag was Evan Roos, ’n leenspeler van die Haaie wat in Juarno Augustus se afwesigheid ’n geleentheid as agtsteman gekry het. Trouens, hy lyk ewe sterk met die bal in die hand as Augustus en sy werkverrigting was ook goed.

Seabelo Senatla het ook ’n bemoedigende terugkeer op die vleuel gemaak en lekker saam met Ruhan Nel en Damian Willemse op die aanval baljaar.

Volgens Snyman was die voorbereidingswedstryde baie waardevol.

“Ons weet nou wat ons in elke speler in ons groep het en hoe ons hulle kan help om te verbeter,” het hy gesê.

“Ons het beter vertoon in die areas wat ons wou en daar was goeie tekens, maar daar lê steeds werk voor.”

Meer oor:  Abner Van Reenen  |  Dawie Snyman  |  Kaapstad  |  Johannesburg  |  Voorbereidingsreeks  |  Afrigter  |  Losskakel  |  Rugby  |  Stormers  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.