Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
James kan Bokke pak ná hy kontrak sluit

Die weg is gebaan vir James O’Connor, een van die stout seuns van Australiese rugby, om Saterdag die eerste keer in ses jaar in ’n toets vir die Wallabies uit te draf.

James O’Connor vroeër vanjaar vir die Sale Sharks in Engeland in aksie. Foto: Getty Images

Dié veelsydige agterspeler het vandeesweek ’n kontrak met die Reds gesluit, wat hom verkiesbaar maak om in die Rugbykampioenskapstoets teen die Springbokke op Ellispark uit te draf.

Die laaste van sy 44 toetse was in 2013 teen Argentinië.

Hy het die laaste klompie jare in Frankryk en Engeland gespeel en was nie verkiesbaar vir die Wallabies nie omdat hy minder as 50 toetse op sy kerfstok het.

O’Connor is onlangs deur die Sale Sharks in Engeland van sy kontrak vrygestel en het saam met die Wallabies na Johannesburg gereis.

Sy handtekening op die kontrak was egter die laaste stuk van die legkaart wat nog nodig was om sy toetsloopbaan weer op dreef te kry.

“Baie werk is agter die skerms ingesit en baie mense het vertroue in my getoon, so ek fokus nou daarop om my beste voet voor te sit,” het dié 29-jarige O’Connor Dinsdag in ’n verklaring gesê.

Sy Wallaby-terugkeer sal ondersteuners in Australië egter verdeel. Die rede daarvoor is dat hy vroeër in sy loopbaan gereeld skandes van die veld af gemaak het.

Sy vorige Wallaby-kontrak is opgeskeur nadat hy dronk geraak het by die lughawe in Perth en die personeel beledig het.

In 2011 het hy verslaap en die Wallabies se amptelike fotosessie voor die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland misgeloop, omdat hy tot in die vroeë oggendure gekuier het.

James O’Connor toe hy as 18-jarige sy toetsdebuut vir die Wallabies gemaak het. Foto: Getty Images

Hy was ook al in ’n geveg met spanmaats in Parys betrokke en is in die Wallabies se reeks teen die Britse en Ierse Leeus in 2013 laatnag in ’n kitskos-restaurant afgeneem.

O’Connor is einde 2013 die eerste keer oorsee, maar het in 2015 na die Reds in Australië teruggekeer in ’n poging om die Wallabies se WB-groep te haal. Hy het daardie jaar egter met beserings gesukkel en is toe nie vir WB-toernooi gekies nie.

Hy is daarna weer Toulon toe (waar hy in 2014 ook gespeel het) en het weer om die verkeerde redes hoofopskrifte gehaal toe hy en die gewese All Black Ali Williams deur die Franse polisie met kokaïen betrap is.

O’Connor het hom in 2017 by die Sale Sharks aangesluit en het die laaste twee jaar uit die moeilikheid gebly.

In dié tydperk het hy gereeld foto’s van hom op Instagram geplaas waar hy mediteer.

Volgens O’Connor, wat as 18-jarige reeds sy Wallaby-debuut gemaak het, het hy ná baie jare besef dat hy eers baie sielkundige probleme in sy lewe moes te bowe kom voor hy sy ware rugbypotensiaal kon verwesenlik.

Hy sê hy het nou beter begrip vir sy “bevoorregte posisie in rugby”.

O’Connor, wat op senter, losskakel of heelagter kan speel, sê hy gee nie om waar Michael Cheika, die Wallaby-afrigter, hom in die agterlyn gebruik nie.

“Ek sal stut speel as ek moet,” sê hy.

– Reuters

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.