Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Stoute’ juniors was goeie leerskool

Om op junior vlak “stoutgatte” soos Moaner van Heerden en Vic Booyens se kaptein te kon wees, het hom help groei om later die Springbokke te lei, sê Wynand Claassen.

Noord-Transvaal o.20-span van 1971. Voor, van links is Darryll Bestall, Pierre van Zyl, Geoff Brooks, Joggie Claassens, Judex Oberholzer. Middel: Prof. L. Prinsloo (sameroeper keurders), J. Halliday (keurder), Butch van Wyk, Wynand Claassen (kaptein), Vic Booyens, Kol. J. Visser (keurder), J. Gouws (keurder/afrigter). Agter: P. Scheepers (keurder), Gerhard Mostert, Chris Pope, Piet Pretorius, Louis Moolman, Moaner van Heerden, Wim van Heerden, Marius Fischer, Gert van Rensburg. Inlas: Orlando Gerber. Foto: Verskaf

Claassen, wat die Bokke tussen 1981 en 1982 in sewe toetse en ses toerwedstryde aangevoer het, was in 1971 kaptein van Noord-Transvaal se o.20-span.

Daardie span was onoorwonne en het vier toekomstige Bokke – Claassen, Van Heerden, Louis Moolman en Chris Pope – opgelewer.

Daar is verlede naweek in ’n berig op Netwerk24 gewonder of daar al ooit ’n sterker o.20-provinsiale span in die land was as die Blou Bulle s’n van 1987.

Kyk, ons was almal jonk en ons het ná wedstryde gekuier dat die biesies bewe.

Verskeie lesers het egter laat weet dat die Vrystaat veral in die eerste deel van die 1970’s, toe manne soos Theuns Stofberg en Gysie Pienaar juniors was, en in die vroeë 1990’s ook fantastiese o.20-spanne gehad het.

Wynand Claassen sê dit was nie altyd ewe maklik om in 1971 die kaptein van Noord-Transvaal se o.20-span te wees nie. Foto: Gallo Images

Claassen reken ook sy “klas van 1971” sou 1987 se Bulletjies ook “’n goeie go” gegee het.

“Maar, liewe hemel, van daardie ouens het my klaargemaak!” onthou hy. “Kyk, ons was almal jonk en ons het ná wedstryde gekuier dat die biesies bewe. Maar mannetjies soos Vic Booyens, Butch van Wyk en Moaner van Heerden was besig, man, besig!”

Soos die keer toe die span die Vrydagmiddag op Pretoria se stasie vir die deurnagrit Durban toe op die trein geklim het.

Claassen se span sou die volgende dag in die hoofvoorwedstryd vir die tweede toets tussen die Bokke en Frankryk teen Natal speel.

As julle drie more k*k speel, kry julle met my te doen.

Sover die trein gery het, het daar rugbyondersteuners opgeklim, wat net een ding in gedagte gehad het – partytjie hou!

“Ek het sommer net geweet daar kom moeilikheid,” vertel Claassen. “Nege-uur die aand, toe die manne vir ’n spanpraatjie aanmeld, was Moaner, Vic en Butch skoonveld.”

Moaner van Heerden het sommer baie manne op een slag besig gehou in die rugbywedstryde wat hy gespeel het. Foto: Springbok Triumph

Claassen vind hulle toe, brandewyn en Coke in die hand, in die laaste kompartement waar hulle lekker kuier.

“Toemaar, Cappie, ek kyk agter hulle,” het Booyens glo gesê en sy drankie agter sy rug probeer wegsteek.

“As julle drie more k*k speel, kry julle met my te doen,” het Claassen hulle gewaarsku.

Natal het toe die volgende dag die wedstryd soos ’n orkaan begin en was gou met 8-0 voor.

Maar toe trek Moaner, Vic en Butch los en speel van hul beste rugby van die seisoen. Niemand sou kon raai dat hulle die vorige aand so uitgehaak het nie!

Moaner het die Natalse kaptein, Jumbo Irvine, met ’n plettervat bebloed laat bly lê.

’n Rukkie later het die einste Moaner toe een van Natal se senters “ ’n bietjie hoog en ’n bietjie laat” geloop.

Die arme ou is afgedra en van die toeskouers het die Noord-Transvalers begin uitjou en met nartjies en lemoene gegooi.

Wim van Heerden, een van Noord-Transvaal se flanke, besluit toe dis ’n goeie tyd om albei sy hande in die lug op te steek en vredestekens te wys. Dit het van die toeskouers net nog meer die josie in gemaak.

Louis Moolman, hier vir die Springbokke in aksie in 1980 teen die Britse en Ierse Leeus, het nog nie so ’n mooi baard gehad toe hy in 1971 vir Noord-Transvaal se o.20-span gespeel het nie. Foto: Springbok Triumph

“Toe ons van die veld af loop nadat die eindfluitjie geblaas het, het die skeidsregter my hand geïgnoreer,” onthou Claassen.

“This is not rugby, my boy,” het die skeidsregter aan Claassen gesê.

Die skeidsregter was Ian Gourlay, wat in 1974 deur toeskouers aangerand is omdat hulle nie tevrede was met hoe hy ’n wedstryd tussen die Kwagga-Barbarians en die Britse en Ierse Leeus op Ellispark in Johannesburg hanteer het nie.

Die meeste van die Noord-Transvalers het voortgegaan om op senior vlak bekende provinsiale spelers te word. Darryl Bestall het ook sy naam as eersterangse krieket- en hokkiespeler gemaak.

Die Noord-Transvaal o.20-span van 1971 was: Pierre van Zyl, Chris Pope, Joggie Claassen, Darryl Bestall, Judex Oberholzer, Vic Booyens, Butch van Wyk, Wynand Claassen (k), Piet Pretorius, Wim van Heerden, Louis Moolman, Moaner van Heerden, Marius Fischer, Geoff Brooks en Gert van Rensburg. Orlando Gerber (senter) en Gerhard Mostert (flank) het ook ’n klompie wedstryde vir die span gespeel.

Meer oor:  Wynand Claassen  |  Bokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.