Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Straeuli gee Matfield raad oor nuwe pos

Een van die eerste oproepe wat Victor Matfield gekry het ná die nuus dat hy die Bulle se Loftus 200-klubrugbyspan gaan afrig, was van die Leeus se uitvoerende hoof, Rudolf Straeuli.

Dié oproep was nie noodwendig ’n gelukwensing nie, maar eerder om Matfield mee te deel hy sal sy storie moet ken.

Die oud-Springbokslot Victor Matfield gaan die Loftus 200-klubspan brei. Foto: Gallo Images

“Rudolf was destyds (in 1986) die eerste kaptein van Loftus 200.

“Hy spog dat die span onoorwonne was en selfs op ’n dag vir Noord-Transvaal geklop het. Ek het ook die boodskap gekry dat die span nie geskop het nie,” skerts die voormalige Bulle-slot en -kaptein.

Loftus 200 was in die 1980’s en 1990’s uit die voormalige Noord-Transvaal se voorste klubspelers gekies.

Die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) het Donderdag op ’n mediakonferensie bevestig die span gaan herleef.

Matfield is die span se hoofafrigter en sal deur Gert Mulder en Marinus van der Watt, onderskeidelik breiers van die QBR- en Naka Bulle-klubs, bygestaan word.

Nog ’n Bulle-legende, Akona Ndungane, is die spanbestuurder.

Willem Strauss, die BBRU se president, sê Loftus 200 is “ ’n ikoniese span uit die unie se verlede”.

“Dit was ’n indrukwekkende span wat daardie jare talle Curriebeker-spanne geklop het.

“Dit is ’n unieke geleentheid vir ons semi-beroepspelers om blootstelling te kry en dit kan ’n pyplyn wees om eendag vir die Bulle te speel.

“Ek kan nie sien dat ons vorentoe kan aanhou om 100 plus beroepspelers te kontrakteer nie en ons sal ons strukture van skolevlak af boontoe moet herbelyn.

“John Mitchell (die Bulle se hoofafrigter) is baie optimisties oor die verwikkelinge.”

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU). Foto: Gallo Images

Matfield meen klubrugby kán en móét ’n veel groter rol in Suid-Afrikaanse rugby speel.

“Die gaping tussen beroepspelers en amateurs is te groot. As ons meer amateurs met goeie afrigting kan help om daardie gaping te verklein, sal dit wonderlik wees.

Ndungane sê toe Strauss hom vroeër die week bel om te vra of hy betrokke sal raak, was dit ’n maklike besluit toe hy hoor Matfield gaan die span afrig.

“Ek sien daarna uit om weer saam met Victor te werk en betrokke te raak by Loftus 200.”

Strauss het na die Leeus-stut Jacques van Rooyen verwys as iemand wat op klubvlak raakgesien is.

“Jacques het destyds vir die Noordelikes-klub gespeel. Johan Ackermann (die Leeus se voormalige afrigter) het hom later ontdek toe hy vir Polisie gespeel het.

“Ek sê nie daar is duisende spelers soos hy nie, maar daar is beslis ouens wat later in hulle loopbane ontwikkel.”

Loftus 200 se eerste wedstryd sal op 7 Julie teen die Valke se Curriebeker-span op Loftus gespeel word.

Meer oor:  Rudolf Straeuli  |  Victor Matfield  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.