Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Straf wag op unies oor kwotas

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se nuwe transformasieplan vir 2030 strek veel wyer as voriges en is op veel meer aspekte van regstelling gemik as net die land se spelerskorps. Unies wat kwalifiseer om toetse aan te bied, sal ook hul “toets-reg” verbeur as hulle nie aan hul spesifieke teikens voldoen nie.

Die Bokke se rassesamesteliing in 2019.
Die Bokke se rassesamesteliing in 2019.

Dit is van die ingrypendste veranderinge wat Saru in sy transformasieplan aangebring het met sy toekomsblik op 2030.

Die nuwe plan is deur al 14 unies aanvaar en skriftelike ooreenkomste is met die unies gesluit. Voorheen het sulke ooreenkomste nie bestaan nie. Dit beteken dat unies nou verantwoord­baar gehou sal word vir die teikens wat hulle vir hulself stel.

Terwyl Saru nie oor die plan wou kommentaar lewer nie, verneem Rapport die nuwe plan is wel ’n week gelede op die algemene vergadering in Johannesburg goedgekeur en is reeds op die webtuiste van SA Rugby geplaas, en ook na al die provinsies versprei. Die einddoel van die “Strategiese Transformasie-ontwikkelingsplan 2030” is om te voldoen aan die opdrag van die voormalige direkteur-generaal van die department van sport en ontspanning, Alec Moemi, wat ’n vereiste gestel het van 60% vir demografie, 25% verteenwoordiging van vroue en 50% vir aankope van bemagtigde ondernemings.

Superspanne se rassesamestelling in 2019.
Superspanne se rassesamestelling in 2019.

Volgens Rapport se bronne het die vorige transformasieteikens nie op alle vlakke gewerk nie omdat baie van die provinsies se omgewing eenvoudig nie in staat was om aan hul teikens te voldoen nie. Die skriftelike memorandum wat nou geteken is, is bindend op provinsies. Unies wat by die teikens hou, sal beloon word met onder meer die aanbied van toetse, en/of jeugrugbyweke, terwyl dié wat hul teikens mis, geldelik benadeel sal word.

Terwyl die aanbied van toetse ’n groot aansporing vir die rugby-franchises is om geldelik te baat, sal jeugweke aan die kleiner unies gegee word as hulle ook by die teikens hou. Daar bestaan ook die moontlikheid dat Saru sy toelae, en/of die verdeling van winste van toetse, van unies sal weerhou as hulle nie aan hul teikens voldoen nie.

“Dit is duidelik dat die vorige teikens nie die unies se unieke situasies in ag geneem het nie en daarom het die gaping net groter en groter geword. Geeneen van die groot unies het by die teikens uitgekom nie, en die nuwe plan neem dit in ag. Die skriftelike ooreenkoms met die unies is geteken deur al die rolspelers en hulle sal self verantwoordelik wees om hul vordering te bestuur,” het ’n bron aan Rapport gesê.

Die verskillende aspekte waaraan unies gemeet sal word, sluit in die demografie van spanne, maar ook vroue, skeidsregters, afrigters, skole, klubs, toegang tot rugby en die spanbestuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.