Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Strafskoppe, dissipline sink Bulle
Die Bulle se kaptein en agtsteman, Duane Vermeulen, beur vorentoe met die Cheetah-stut Luan de Bruin wat probeer om hom te stuit in die spanne se Superrugby Unlocked-wedstryd Vrydagaand in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Die Bulle het hopeloos te veel strafskoppe ná mekaar afgestaan en dis waarskynlik waarom hulle die Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Cheetahs Vrydagaand in Bloemfontein verloor het.

So sê Jake White, die span se afrigter, ná hul eerste nederlaag in die reeks. Hulle is met 19-17 in die Rosestad geklop, maar daar was ’n kans dat die wedstryd nog gelykop kon eindig.

’n Verbroude doelskop deur die plaasvervangerlosskakel, Chris Smith, was teen die einde die verskil tussen ’n gelykop uitslag en die nederlaag.

Ek is trots op die manier waarop ons teruggeveg het. Waaraan ons nou moet werk, is om nie strafskoppe ná mekaar af te staan nie.
Jake White

“Die strafskoppe het veroorsaak dat ons nie uit ons helfte kon kom nie, maar ek is trots op die manier waarop ons teruggeveg het. Waaraan ons nou moet werk, is om nie strafskoppe ná mekaar af te staan nie,” het White gesê.

Wat wel teen die Bulle getel het, was die feit dat hul veteraan-Springbokheelagter Gio Aplon se wedstryd ná vyf minute kortgeknip is nadat hy ’n kniebesering opgedoen het.

Dis nog nie bekend wat die omvang van sy besering is nie.

“In dié stadium is dit net bespiegelings, maar hy dink hy het ’n ligament geskeur. Dit het nog nooit voorheen met hom gebeur nie, so hy sê ook hy is nie heeltemal seker nie. Ek wil dus niks vooruitloop nie totdat ons van die mediese span gehoor het.

“Hy het gehardloop en toe hy aftrap, het die buitekant van sy knie seergekry. Hopelik is dit nie die ligament wat geskeur het nie. Indien wel, hoop ons op ’n spoedige herstel,” het White bygevoeg.

Behalwe dat daar vir ’n groot deel van die wedstryd min tussen die spanne te kies was, moet die Springbok-senter Frans Steyn tog uitgesonder word oor hy so knaend die Bulle se verdedigers getoets het.

Jake White , afrigter van die Bulle. Foto: Verskaf

Op ’n vraag of Cornal Hendricks gekies is om Steyn te neutraliseer, het White gesê dit was nie die plan nie.

“Hy het op 13 gespeel en ek het besluit om hom 12 toe te skuif, want ek het gevoel Stedman (Gans) en Cornal het baie meer as ’n kombinasie saamgespeel. Ek het die kombinasie weer herenig, want ek wou sien hoe dit ontwikkel.

“Ons het Clinton (Swart) en Cornal saam probeer en ons het uiteraard ’n tipe waarde daar gekry. Maar ek het besluit om terug te keer na wat in die oefeninge getoets is en Cornal terug 12 toe geskuif.

“Julle weet, ek ken Frans baie goed, hy is een van die beste spelers in die wêreld en jy moet maniere vind om hom onder druk te plaas. In die wedstryd kon jy sien hoe goed hy werklik is,” het die voormalige Springbok-afrigter gesê.

Soos verwag, was dit ’n titaniese stryd tussen die voorspelers en die spanne het baie goed opgeweeg.

Die Bulle se kaptein en agtsteman, die Springbok Duane Vermeulen, het gesê die Cheetahs het goed voorlangs begin, wat hul agterspelers die geleentheid gegee het om die bal te versprei.

Ek dink ons het goed bygehou, maar die skote het van albei kante af geklap en fisiek het die spanne mekaar goed opgedreun.
Duane Vermeulen

“Ek dink ons het goed bygehou, maar die skote het van albei kante af geklap en fisiek het die spanne mekaar goed opgedreun.

“Dit was maar ongedissiplineerde spel wat ons op die agtervoet geplaas het. As jy losskakels het en manne het wat 50 m plus kan skop, gaan jy op die agtervoet wees,” het die kaptein gesê.

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Jake White  |  Hawies Fourie  |  Bloemfontein  |  Pretoria  |  Strafskoppe  |  Bulle  |  Cheetahs  |  Dissipline  |  Superrugby Unlocked  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.