Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Streeptruie durf nie dié toets dop

Tradisie. Dít, in ’n neutedop, is wat wedstryde tussen die Westelike Provinsie en die Blou Bulle op Nuweland so spesiaal maak.

Dit kan Saterdag die laaste keer wees wat die WP en Blou Bulle mekaar op Nuweland die stryd aansê. Foto: Gallo Images

Die feit dat Saterdag s’n, wat binne ’n leë stadion gespeel gaan word, die laaste daar gaan wees tensy dié spanne mekaar in die uitspeelrondes op Nuweland pak, sal elke volbloed- Suid-Afrikaanse rugbyondersteuner effens bewoë maak.

Terselfdertyd behoort dit veral die WP-spelers te laat besef hoe belangrik dit is om ’n groot vertoning te lewer. Was dit nie vir Covid-19 nie, sou etlike duisende Kapenaars na Nuweland toe opgeruk het ter ondersteuning van die Streeptruie.

Elke oomblik en elke wedstryd daar moet nou gekoester word en meer so wanneer die aartsvyand uit Pretoria die teenstander is.

Geeneen van die WP-spelers sal die mantel wil dra dat hulle in die laaste wedstryd teen die Ligbloues op Nuweland aan die verloorkant was nie.

Maar die motivering strek weerskante toe.

Die Bulle het laas in 2009 – met Morné Steyn se strafdoel ná Sireli Naqelevuki se hoogvat in ’n Curriebeker-halfeindstryd – op Nuweland gewen.

Die WP-losskakel Damian Willemse oefen Vrydag sy stelskoppe op Nuweland tydens die Streeptruie se kapteinsoefening. Foto: Gallo Images

Hierdie is wel die sterkste en bes afgerigte Bulle-span in etlike seisoene wat hierdie naweek in die Moederstad kuier. Jake White, hul breier, is ’n bewese wenner en dieselfde geld Duane Vermeulen, hul kaptein.

In Trevor Nyakane het hulle ’n vaskopstut wat beter as die meeste spelers toegerus is om Steven Kitshoff se aanslag in die skrum af te weer, en dan is daar Vermeulen en Marco van Staden om die tuisspan se lewens by die afbreekpunte te vergal.

Boonop het die Bulle ’n agterlyn wat enige span kan laat bontstaan as hulle ruimte kry of daar die geleentheid op ’n teenaanval gaan wees.

’n “Roetine-oorwinning”, soos wedstryde teen die Bulle die afgelope klompie seisoene op Nuweland geraak het, gaan hierdie beslis nie vir die WP wees nie.

Dat die Streeptruie behoort te wen, is egter so.

Hulle het ’n pak voorspelers om van te droom en dít is die fondament waarop enige sege in ’n groot wedstryd gebou word.

Die WP sal sonder twyfel ook druk op die Bulle se losskakel, Chris Smith, probeer plaas. Die besoekers se wenkans hang waarskynlik deels daarvan af of Smith die leemte kan vul wat deur die veteraan Steyn gelaat is.

Met Jake White as hul afrigter, is die Bulle ’n meer gedugte teenstander as wat hulle in etlike seisoene was. Foto: Gallo Images

Vir die WP is ’n voortsetting van Damian Willemse se goeie spelpeil in hul vorige wedstryd teen die Cheetahs ook van kritieke belang.

John Dobson, die Streeptruie se afrigter, het deur dik en dun by sy losskakel gestaan en dit lyk of sy geduld beloon gaan word. Maar dit was net een wedstryd en gans te min om met vertroue te kan voorspel dat Willemse ’n wedstryd teen die Bulle sal kan dikteer.

Die WP sal ook met meer meedoënloosheid moet speel. Dit was ’n skaflike vertoning teen die Cheetahs, maar talle geleenthede op die aanval is nie benut nie. Daar gaan minder van hulle teen die Bulle wees, wat geduld en akkuraatheid in spanningsvolle toestande gaan verg.

’n Toetsatmosfeer heers inderdaad en só was dit nog altyd wanneer hierdie reuse met hul voorste spelers met mekaar swaarde gekruis het.

Dat dié wedstryd moontlik die laaste een is wat tussen die WP en Bulle op Nuweland gespeel word, maak dit gewis ’n toets wat die Streeptruie nie durf dop nie.

WP: Warrick Gelant, Seabelo Senatla, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Angelo Davids, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni, Ali Vermaak, Kwenzo Blose, Neethling Fouché, David Meihuizen, Chris van Zyl, Jaco Coetzee, Marcel Theunissen, Godlen Masimla, Tim Swiel, Ruhan Nel.

Bulle: David Kriel, Travis Ismaiel, Stedman Gans, Cornal Hendricks, Kurt-Lee Arendse, Chris Smith, Ivan van Zyl, Duane Vermeulen (k), Arno Botha, Marco van Staden, Ruan Nortjé, Walt Steenkamp, Trevor Nyakane, Johan Grobbelaar, Jacques van Rooyen. PLAASVERVANGERS: Corniel Els, Gerhard Steenekamp, Marcel van der Merwe, Sintu Manjezi, Nizaam Carr, Embrose Papier, Clinton Swart, Marco Jansen van Vuren.

Skeidsregter: AJ Jacobs

Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni en Divan Uys

TV-skeidsregter: Rasta Rasivhenge

TV: 19:00 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN.

Meer oor:  Kaapstad  |  Nuweland  |  Rugby  |  Curriebeker-Reeks  |  Blou Bulle  |  John Dobson  |  Jake White  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.