Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP erken hy moet sokkies optrek

Bokmis is aanvanklik as rosyntjies gesmous toe die Westelike Provinsie Vrydag ’n handjievol joernaliste toegespreek het, maar daar was darem ’n erkenning dat die vertoning in die Curriebeker-wedstryd teen die Leeus vandeesweek onaanvaarbaar swak was.

Norman Laker, die WP se verdedigingsafrigter, sê die span sal sy ondersteuners nie weer in die steek laat soos Woensdag teen die Leeus nie. Foto: Gallo Images

“Woensdag (se vertoning) was glad nie op peil nie,” het Norman Laker, die WP se verdedigingsafrigter, op ’n aanlyn nuuskonferensie oor die nederlaag van 32-38 in die Goudstad gesê.

“Ons het onsself in die eerste 30 minute in die steek gelaat en dit getakel. Ek’s 100% seker dat ons nie weer onsself of ons ondersteuners in die steek sal laat nie.”

Laker het aanvanklik die positiewe aspekte beklemtoon – dat die WP in wegwedstryde teen die Bulle en Leeus sewe ligapunte gebuit het. Die werklikheid is ook dat hulle teen ’n amperse C-span van die Bulle gespeel het en op ’n kol teen die Leeus met 10-38 agter was.

Meer word van senior spelers soos Seabelo Senatla in die WP-span verwag. Foto: Gallo Images

Die WP het in sy eerste twee wedstryde 11 drieë aangeteken, maar ook tien afgestaan, waarvan ses teen die Leeus.

“Verdediging is die afgelope paar jaar eintlik ons sterkpunt,” sê Laker.

“Ek dink dit was konsentrasie wat ons in die steek gelaat het, en een of twee simpel strafskoppe wat ons afgestaan het.

“Ja, dit was nie op die standaard wat ons vir onsself gestel het nie, maar met die groep spelers wat ons het en die energie (onder hulle) weet ek vir ’n feit dat dit Woensdag (teen die Haaie in die Kaapstad-stadion) beter sal gaan.”

Seabelo Senatla (links) en Norman Laker gesels Vrydag met die media. Foto: Gallo Images

Seabelo Senatla, die WP se linkervleuel teen die Leeus, sê daar is onderling hard gepraat.

“Dit was vir ons as spelers baie teleurstellend,” sê hy.

“Ons was vir 60 minute nie in die wedstryd nie. Ons sal veral na ons benadering tot wedstryde moet kyk. Dit voel asof ons wag vir spanne om sake te dikteer eerder as andersom.”

Hy meen daar word ook te veel op spelbrekers staatgemaak.

“Ons moet as ’n eenheid saamtrek en seker maak dat ons saam vorentoe beweeg, nie net wag vir een ou om ’n toorkunsie uit te haal en dan volg nie,” sê hy.

Ironies genoeg sal die WP bly wees oor die terugkeer van een van sy groot towenaars, Edwill van der Merwe, teen die Haaie.

“Daar’s baie spelers in die agterste driehoek wat hul hande opsteek. Edwill was ongelooflik in die laaste paar wedstryde wat hy vir die Stormers gespeel het,” sê Senatla.

Nóg twee blitsige buiteagterspelers – Leolin Zas en Tristan Leyds – is ook weer fiks.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Leeus  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.