Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Streeptruie op hul stukke teen Haaie

Die Haaie se afrigter, Robert du Preez, moet baie bly wees dat sy oudste seun, Robert jr., aanstaande jaar sy rugby in Durban gaan speel.

Du Preez jr. was Saterdag weer met ’n puik vertoning die doodsteek vir sy pa se span, met die Westelike Provinsie wat die Haaie in ’n boeiende Curriebekerwedstryd op Kings Park met 31-20 geklop het.

Dewaldt Duvenage maak Saterdag die oond skoon. Foto: Gallo Images

Die WP se generaal het die verloop van die wedstryd met ’n drie onder die pale verander en ook ’n tweede drie afgerond ná goeie samespel met die indrukwekkende flank, Jaco Coetzee.

Du Preez se stewel was ook vir die WP ’n bondgenoot – pale toe én uit die hand.

Dit was ’n besonderse vertoning deur die WP. ’n Mens wou hulle afskryf ná verlede Sondag se nederlaag teen ’n jong span van die Goue Leeus, maar die Kapenaars was op hul stukke toe dit saak gemaak het.

Die Haaie was met die omdraaislag met 13-3 voor, maar dit was slegs danksy die WP se onvermoë om talle geleenthede af te rond.

In die tweede helfte het die WP 28 onbeantwoorde punte aangeteken voordat Kobus van Wyk vir die tuisspan ’n troosdrie afgerond het.

Dit was die Haaie se eerste nederlaag in 11 wedstryde, maar ter verdediging moet gesê word dat hulle voor die afskop reeds seker was van hul plek boaan die puntelys. Uit hul perspektief was die wedstryd slegs van akademiese belang.

Op hul beurt was die Kapenaars desperaat vir die sege om ’n halfeindstryd op Nuweland te verseker.

Voor Du Preez se eerste drie, in die 54ste minuut, het dit gelyk of die Haaie die kragmeting deur hul verdediging kan beklink. Die WP was bedrewe met die bal in die hand, maar net nie klinies genoeg nie.

Die blou-en-wit golf het egter aanhou kom en die damwal het mettertyd gebreek.

Dit was ’n besonderse vertoning deur die WP. ’n Mens wou hulle afskryf ná verlede Sondag se nederlaag teen ’n jong span van die Goue Leeus, maar die Kapenaars was op hul stukke toe dit saak gemaak het.

Vir die WP was die Springbokvaskopstut Wilco Louw weer ’n groot uitblinker. Die Haaie het wel in die eerste skrum ’n strafskop afgedwing, maar daarna het die WP dié faset baie goed tot sy voordeel aangewend.

Ander uitblinkers voorlangs was die slot JD Schickerling en agtsteman Nizaam Carr, terwyl Du Preez jr. se skakelmaat, Dewaldt Duvenage, agterlangs ook ’n invloedryke wedstryd geniet het.

Duvenage het self ’n mooi drie afgerond en die koeël was deur die kerk toe Schickerling agter die doellyn gaan kuier het nadat die Haaie besit in ’n lynstaan verloor het.

Vir die WP lyk die pad eindstryd toe nou aansienlik makliker. As die Streeptruie inderdaad daar uitkom, kan dit wees dat hulle moet terugkeer Durban toe. Ná Saterdag sal hulle dit met selfvertroue kan doen.

Puntemakers:

Haaie 20 (13): Drieë: Marius Louw, Kobus van Wyk. Doelskoppe: Curwin Bosch (2). Strafdoel: Bosch. Skepdoel: Bosch.

Westelike Provinsie 31 (3): Drieë: Robert du Preez (2), Dewaldt Duvenage, JD Schickerling. Doelskoppe: Du Preez (4). Strafdoel: Du Preez.

Meer oor:  Haaie  |  Wp  |  Robert Du Preez  |  Curriebeker
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.