Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Streeptruie soek gepaste afskeid
Daar was grappies by Vrydag se kapteinsoefening van die WP op Nuweland, maar die spelers besef die erns van die saak voor Saterdag se Curriebeker-halfeindstryd teen die Haaie. Foto: Gallo Images

Breyton Paulse het Nuweland die beste opgesom toe hy vandeesweek oor sy herinneringe van dié ikoniese rugbystadion gesels het: Dis heilige grond.

Dáárom sal ’n mens van die Westelike Provinsie verwag om die Haaie nie net in Saterdag se Curriebeker-halfeindstryd op Nuweland te klop nie, maar dit op ’n manier te doen wat hul ondersteuners se harte warm sal laat klop.

En nog meer so as die Bulle die Leeus in die voorafgaande halfeindstryd op Loftus Versfeld klop, want dan gaan daar nie ná Saterdag se wedstryd weer Curriebeker-rugby op Nuweland wees nie.

Wen die Leeus en die WP, is die saak vir ’n laaste week beredder en is daar ’n eindstryd om na uit te sien in die Kaap.

Siya Kolisi, die WP se kaptein, sê die spelers besef op ’n emosionele vlak hoe groot die verantwoordelikheid is wat hierdie naweek op hul skouers rus.

“Daar is soveel puik spelers wat voor ons op Nuweland gespeel het. Coach Dobbo (John Dobson, die hoofafrigter) het familiebande by hierdie stadion en dit beteken so baie vir soveel mense,” sê Kolisi.

“Ons is die groep wat gekies is om hierdie hoofstuk af te sluit en daardie eer wat ons te beurt val, is iets waaroor ons gesels het.

Siya Kolisi, die WP se kaptein, by Vrydag se oefensessie op Nuweland. Hy sê hulle wil nie om die verkeerde redes onthou word ná Saterdagaand se stryd teen die Haaie nie. Foto: Gallo Images

“Ons gaan die span wees wat die laaste keer op Nuweland gespeel het en ons wil seker maak dat ons vir iets goed onthou word.”

Dít is die emosionele sy van Saterdag se wedstryd. Uit ’n rugbyperspektief is dit moeilik om die wenner te voorspel. Die skaal sou dalk na die WP se kant toe oorgehel het as die Springbok-loskopstut Steven Kitshoff kon speel, maar Covid-19-protokolle hou hom langs die kantlyn.

Die groot vraag is dus doodeenvoudig: Kan die WP op Ali Vermaak staatmaak om nie net sy man teen die Springbok-vaskopstut Thomas du Toit te staan nie, maar ook om ’n bietjie druk uit te oefen?

Indien Vermaak opgewasse, of selfs meer as dit is, sal die Streeptruie na hul sterkpunte kan speel. ’n Span wat hom op sy uitvoering van die meganiese aspekte van die spel roem, sal in duie stort as hy in die skrums swaar leef.

Voorts is die enigste manier om druk op die Haaie se briljante losskakel, Curwin Bosch, te plaas én te hou, deur die agttal. Strafskoppe teen die WP sal deur hom in punte omskep word.

Die WP het ’n hele paar spelers met ervaring van uitspeelwedstryde, wat sal help. Kolisi, Frans Malherbe (vaskopstut) en Bongi Mbonambi (haker) was almal in die Springbokke se beginspan vir 2019 se Wêreldbeker-eindstryd. Chris van Zyl, die slot op die plaasvervangersbank, was ook die WP se kaptein toe hulle laas in 2017 die Curriebeker kon wen.

“Almal wat al in groot uitspeelwedstryde gespeel het, het vandeesweek hul rol gespeel in terme van ons voorbereiding,” sê Kolisi.

“Die belangrike ding is dat ons almal die plan ken en wat ons te doen staan. Dit geld nie net die leiersgroep nie. Dís die boodskap wat ons probeer tuisbring: Doen net jou werk en al die ander dinge sal in plek val.”

WP: Damian Willemse, Sergeal Petersen, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Angelo Davids, Tim Swiel, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Johan du Toit, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Ali Vermaak. PLAASVERVANGERS (uit): Scarra Ntubeni, Leon Lyons, Neethling Fouché, Chris van Zyl, Ernst van Rhyn, Jaco Coetzee, Paul de Wet, Ruhan Nel, Sazi Sandi, Tristan Leyds.

Haaie: Aphelele Fassi, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am (k), Marius Louw, Yaw Penxe, Curwin Bosch, Sanele Nohamba, Sikhumbuzo Notshe, Henco Venter, Dylan Richardson, Ruben van Heerden, JJ van der Mescht, Thomas du Toit, Fez Mbatha, Ox Nche. PLAASVERVANGERS: Dan Jooste, Mzamo Majola, Michael Kumbirai, Hyron Andrews, Thembelani Bholi, Jaden Hendrikse, Jeremy Ward, Manie Libbok.

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen.

Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni en Aimee Barrett-Theron.

TV-skeidsregter: Stuart Berry.

TV: 16:30 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).

Meer oor:  Curriebeker-Reeks  |  Haaie  |  Westelike Provinsie  |  Nuweland  |  Breyton Paulse  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.