Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Streng voorry-toets kelder Boland
Die voorhoede van Suid-Afrika se o.20-span sak in ’n vaste skrum teen die Junior All Blacks vroeër vanjaar. Spelers jonger as 20 moet aan streng vereistes voldoen om in kompetisies bo hul ouderdomsgroepe te kan speel. Foto: Getty Images

Die Boland Rugbyunie het sy o.20-span Woensdag aan die nasionale kompetisie onttrek, omdat hy nie sy beste span in die veld kan stoot nie weens ’n reël wat bepaal dat 18- en 19-jariges nie in die voorry mag sak nie.

Wêreldrugby het ’n vereiste wat bepaal dat ’n speler wat 18 of 19 jaar oud is en in die voorry sak, slegs vir ’n o.20-span kan speel, mits hy vooraf ’n bepaalde toets ondergaan én slaag. Dié reël word afgedwing om beserings te voorkom.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) vereis op sy beurt dat spelers wat in die voorry sak en op o.20-vlak speel, volgens die maatstaf vir o.21-spelers gemeet word.

Die toets wat spelers moet ondergaan, bepaal dat ’n haker onder meer die volgende moet kan doen:

* Bankstote van 120 kg;

* gewig van 197,7 kg in gehurkte posisie optel (drie repetisies);

* 59,1 opstote per minuut;

* 81,2 opsitte in ’n minuut;

* 11,8 optrekke in ’n minuut;

* 40 m in 5.4 sekondes aflê en

* gemiddeld 93,3 kg weeg.

Minstens twee afrigters wat met spelers op hierdie ouderdomsvlak werk, sê dat die vereistes te streng is.

Tot aan die einde van 2015 was daar o.19- en o.21-kompetisies waaraan alle provinsiale unies in Suid-Afrika deelgeneem het. Sedert 2016 neem die sogenaamde kleiner unies egter slegs aan ’n o.20-kompetisie deel. Die spanne in die o.20-kompetisie is die Boland, Griffons, Pumas, Griekwas, Suidwestelike Distrikte, Limpopo, Valke en Grens.

Ivan Pekeur, die president van die Boland Rugbyunie. Foto: Argief

Ivan Pekeur, president van die Boland Rugbyunie, erken dat sy unie sy span onttrek het oor die reël vir spelers wat in die o.20-kompetisie in die voorry wil sak.

“Dit is ’n treurige dag vir rugby. Ons het nie kontantvloei nie. Saru laai net die verantwoordelikheid op die unies. Nou moet ons gaan spelers soek om aan dié reël te voldoen.

“Ons het reeds nie geld om ons verantwoordelikhede na te kom nie. Boonop moet ons die koste dra om die spelers te laat toets,” sê Pekeur.

Netwerk24 het ’n e-pos onder oë gehad waar Chris Kasselman van die Bloemrugby Akademie kapsie by Saru maak teen die feit dat een van sy spelers, Jefferson Busch, ’n 19-jarige stut, verbied is om vir die Griffons se o.20-span te speel.

“Hy (Busch) is ’n speler wat verlede jaar goed genoeg was om as stut vir Griekwas op die o.18-Akademieweek te speel. Hy word goed genoeg geag deur sy skrumafrigter by die akademie (die voormalige Springbokstut Wian du Preez). Die vraag is of jul (Saru) vrystellingsproses se standaarde nie onnodig hoog is en julle daardeur rugby meer skade doen as bevorder nie?” skryf Kasselman in die e-pos.

Dr. Wayne Viljoen, senior bestuurder van rugbyveiligheid by Saru, het in antwoord op Kasselman se e-pos gesê dat die proses in pas is met Wêreldrugby en ander internasionale unies.

“Meneer Busch was ver uit (van die vereiste maatstawwe) in al die toetse, wat deur onafhanklike persone gedoen is. Ons is tevrede dat die stelsel werk,” sê Viljoen.

’n Woordvoerder van Saru het Woensdag erken dat daar nie ’n spesifieke toets is wat op o.20-spelers gerig is nie, maar gesê dat “enige speler wat sy sout werd is, dit behoort te slaag”. Hy sê ook die provinsies is lankal bewus van die reël en dat dit nie 'n nuwe ding is nie.

* Grens se o.20-span het hom ook vroeër die week aan die kompetisie onttrek.

Meer oor:  Stut  |  Boland  |  Griffons  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.