Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stryd om WB aan te bied nie verby, sê Franse

Frankryk is oortuig daarvan dat die bodproses vir die reg om die Wêreldbekertoernooi in 2023 aan te bied steeds ’n resies tussen twee perde is, al is Suid-Afrika Dinsdag bo Frankryk en Ierland as Wêreldrugby se voorkeurkandidaat vir dié skouspel aangewys.

Bernard Laporte, president van die Franse Rugbyunie, is aan die woord. Foto: Getty Images

Supersport.com berig Bernard Laporte, Frankryk se rugbybaas, het die bevindinge van ’n onafhanklike konsultasiemaatskappy verwerp. Hy glo sy unie kan seëvier wanneer die stemproses op 15 November plaasvind.

Hoewel dit onwaarskynlik sal wees vir lidlande wat stem om af te wyk van die aanbeveling wat deur die onafhanklike konsultasiemaatskappy gemaak is, bestaan die kommer dat politiekery en agterbakse ooreenkomste Suid-Afrika se bod in die wiele kan ry.

“’n Eindstryd neem van vandag af vorm aan. Een waarin Frankryk en Suid-Afrika mekaar pak. ’n Nuwe wedstryd begin wat met die soewereine verkiesing op 15 November ten einde sal loop,” sê Laporte.

Hy glo die finansiële waarborge – wat Frankryk eerste geplaas het – is waarop Wêreldrugby sy besluit moet grond en nie infrastruktuur, waar Suid-Afrika tops was, nie.

Suid-Afrika se bod het, volgens die onafhanklike konsultasiemaatskappy, met ’n slaagsyfer van 78,97% die beste gevaar. Frankryk (75,88%) se bod was die naasbeste en Ierland (72,25%) was derde.

Suid-Afrika het in die kategorie vir stadions en infrastruktuur heelwat beter as sy mededingers gevaar en dít het uiteindelik die deurslag in sy gunstige bodbeoordeling gegee.

“Nou moet ons die stemgeregtigdes oorreed wat die kwaliteit van ons infrastruktuur en stadions betref,” sê Laporte.

“Ons is die wêreld se voorste toeristebestemming en beskik oor die infrastruktuur om spanne en toeskouers oor die wêreld heen in die beste omstandighede te huisves.

“Frankryk spog sedert Uefa se Euro 2016-toernooi met stadions wat aan die beste in die wêreld voldoen.

“In hierdie pylvak is ons meer oorgehaal as ooit tevore om die stemgeregtigdes te oortuig dat Frankryk die beste keuse vir die Wêreldbekertoernooi in 2023 is.”

Onafhanklike ouditeure sal intussen die stemproses op 15 November in Londen monitor. Suid-Afrika sal met Ierland en Frankryk om 39 stemme meeding. Die land wat die meerderheid stemme op hom verenig, sal as die gasheerland aangewys word.

Die lande wat aan die stemproses mag deelneem is: Australië (3 stemme), Engeland (3), Nieu-Seeland (3), Skotland (3), Wallis (3), Italië (3), Argentinië (3), Kanada (1), Japan (2), Georgië (1), Roemenië (1), VSA (1), Asië-rugby (2), Oseaniese Rugby (2), Rugby Afrika (2), Rugby-Noord-Amerika (2), Rugby-Europa (2), Suid-Amerika-rugby (2).

– Sportredaksie

Meer oor:  Bernard Laporte  |  Wb-Bod  |  Wêreldbeker-Bod  |  Wêreldbeker  |  Wb-2023
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.