Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Strydros Afrika terug vir Blitsbokke

Cecil Afrika sluit hom vandeesweek by die Blitsbokke aan, ’n jaar nadat hy die laaste keer vir die Suid-Afrikaanse sewesspan in aksie was.

Cecil Afrika word deur twee Keniane beetgekry tydens die sewestoernooi in Kaapstad in 2017. Foto: Getty Images

Die 31-jarige Afrika en Mfundo Ndhlovu is na Parys ontbied vir die laaste Wêreldreeks-sewestoernooi van die seisoen, wat die naweek beslis word.

Dít volg nadat Kurt-Lee Arendse (harsingskudding) en Stedman Gans (hand) die afgelope naweek in Londen beseer is.

Afrika het tydens die toernooi in Londen, in 2018, ’n dyspierbesering opgedoen, wat hom lank op die krukkelys gehou het.

Afrika, wat in 2011 Wêreldrugby se Sewesspeler van die Jaar was, is ’n spelskepper soos min en word as een van die voorste sewespelers ter wêreld gereken. Sy 1 430 punte in 318 wedstryde is die sesde meeste in die geskiedenis van die reeks.

Ndhlovu word as een van die nuwe geslag sterre beskou en sal die eerste keer sedert Maart weer in aksie wees, nadat hy ’n polsgewrig-besering in Las Vegas opgedoen het.

Mfundo Ndhlovu stoei met ’n Engelse speler om besit in 2018 se Hongkong-sewestoernooi. Foto: Getty Images

Neil Powell, Blitsbokke se afrigter, sê ten spyte van die verlies van die twee beseerdes, is hy bly dat Afrika-hulle hul by die span aansluit.

“Hulle (Arendse en Gans) is albei ons senters, wat dit so bietjie moeilik maak. Maar Cecil is ’n lekker ervare speler en dit is altyd lekker om hom in die span te hê.

“En dan Mfundo, hy het al gewys dat hy op dié vlak kan speel, maar hy het ook die afgelope jaar baie met beserings gesukkel.

“Dit is nou omtrent presies ’n jaar gelede sedert Cecil gespeel het. Hy het baie hard gewerk om terug te kom. Hy het die laaste paar dae baie goed geoefen en ek dink hy sal op en van die veld af ’n bydrae maak. Dit is goed dat hy terug is,” sê Powell.

* Powell sal eers Vrydag sy groep finaliseer. Philip Snyman was die plaasvervanger in Londen, maar het speelkans Sondag gekry en die span op die veld gelei teen Nieu-Seeland.

Dat Powell twee agterspelers (Afrika en Ndhlovu) ingebring het en nie vir Werner Kok agtertoe geskuif het nie, laat die vermoede ontstaan dat Snyman weer die plaasvervanger gaan wees.

Meer oor:  Cecil Afrika  |  Kurt-Lee Arendse  |  Sewesrugby  |  Sewesreeks  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.