Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cecil het seweskennis vir Afrika

Die spreekwoord dat wysheid met die grysheid kom, is ook op die Blitsbok Cecil Afrika van toepassing, wat ná ’n afwesigheid weer by die nasionale sewesspan ingesluit is.

Wêreldrugby se sewesreeks word Saterdag met die Hamilton-toernooi in Nieu-Seeland hervat.

Cecil Afrika in aksie in die Las Vegas-sewestoernooi in 2018 in Amerika. Foto: Getty Images

Op 31-jarige ouderdom het Afrika – wat allermins grys is – omtrent al alles gesien sedert hy sy debuut in 2009 vir Suid-Afrika gemaak het. Juis daarom weet hy dat hy bitter min dinge – soos om van ’n plek in die span verseker te wees – as vanselfsprekend kan aanvaar.

Vir die eerste twee toernooie in die seisoen – in Dubai en Kaapstad – is hy oor die hoof gesien.

“Dit is ’n baie groot voorreg om vir die volgende twee toernooie (in Nieu-Seeland en Australië) in die Blitsbok-groep te wees. Ek is baie opgewonde en sien regtig uit daarna.

“Dit was nie frustrerend (om nie gekies te word) nie, ek het al ’n paar keer langs die kant gesit en wedstryde dopgehou.

“ ’n Mens leer maar om jou emosies te beheer. Dit help ook soms om ’n wedstryd van die ander kant af te kyk en dan weer honger te wees as jy terugkom,” sê Afrika een van die wêreld se voorste spelskeppers.

In die Hamilton-toernooi sal ’n nuwe formaat vanjaar geld, waarvolgens slegs die span wat eerste in elke groep eindig die uitspeelrondes sal haal. Met Suid-Afrika wat hom saam met Engeland, Kenia en Japan in Groep B bevind, kan ’n katgeveg soos min verwag word.

Tog weet die ervare Afrika, wat in 2011 Wêreldrugby se Sewesspeler van die Jaar was, dat dit nie dié toernooi skielik moeiliker as voriges maak nie.

“Elke toernooi is in elk geval moeilik, daar is nie ruimte om foute te maak nie.

“Ons moet seker maak ons bly by wat ons beplan het en voer dit tot die beste van ons vermoëns uit. Dit is al wat ons kan beheer,” sê hy.

Cecil Afrika hardloop al langer as ’n dekade sirkels om teenstanders. Hier is hy in aksie in 2009 se George-sewestoernooi in die Suid-Kaap. Foto: Gallo Images

Hoewel Afrika se fokus daarop is om die Blitsbokke te help om suksesvol te wees, het hy groot drome vir die seisoen.

“My mikpunt vir die seisoen is om die groep vir die Olimpiese Spele (hy het Suid-Afrika ook in 2016 in Rio de Janeiro verteenwoordig) te haal. Dan vat ons dit maar van daar af en hopelik kan ons ’n goue medalje wen,” sê Afrika.

* Dit kan maklik gebeur dat die wenner van die wedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland sal bepaal wie in Groep B vir die halfeind kwalifiseer.

Die Engelse het ’n nuwe afrigter nadat Simon Amor die afgelope week as aanvalsafrigter van Engeland se vyftienman-span aangewys is.

James Rodwell (35), wat as tussentydse breier aangewys is, is egter geen groentjie as dit by sewesrugby kom nie. Hy het verlede seisoen sy uittrede ná 91 toernooie in Wêreldrugby se sewesreeks aangekondig – die meeste deur enige speler tot op hede.

Meer oor:  Sewes  |  Blitsbokke  |  Cecil Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.