Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ferreira deur Cheetahs gekontrakteer

Die strydros Schalk Ferreira (36) kon hierdie week maar net sy kop skud oor hoe onvoorspelbaar die lewe is.

Schalk Ferreira se speeldae is nog nie iets van die verlede nie. Hy is op pad na die Cheetahs nadat hy Woensdag ’n kontrak vir twee jaar met dié span gesluit het. Foto: Gallo Images

Ná hy vir byna agt maande kontrakloos was en toe ’n paar weke gelede sonder betaling by die Oostelike Provinsie begin oefen het, is hy skielik op pad na die Cheetahs.

“Ek het ’n kontrak vir twee jaar met die Cheetahs onderteken. Ons (hy en sy gesin) gaan Bloem toe,” sê Ferreira.

“Die Cheetahs begin op 2 Februarie weer oefen, so dis maar ’n deurmekaarspul op die oomblik. Ons fight nou om verblyf te kry en my seun moet binnekort gr. 1 toe gaan, so ons moet vir hom ’n skool kry en alles.”

’n Rits beserings onder die Cheetahs se stutte en voorrymanne wat oorsee groener weivelde gaan soek het, het die deur vir Ferreira in Bloemfontein oopgemaak.

As dit nie vir die Covid-19-pandemie was nie, sou die veteraan dalk nou iewers in Frankryk gewees het.

Die Franse is ook nie so behep met ouderdom soos ons hier in Suid-Afrika nie.
Schalk Ferreira

Nadat sy kontrak verlede jaar by die Southern Kings verstryk het, het hy aanvanklik in Port Elizabeth bly oefen met die oog op ’n kontrak op kort termyn by dieselfde franchise.

Die Kings se likwidasie het egter dinge dramaties verander en hy en Ronnie Cooke, sy agent, het weer na Frankryk begin kyk.

Ferreira het voorheen twee jaar vir Toulouse gespeel en word hoog aangeslaan daar.

“Die Franse is ook nie so behep met ouderdom soos ons hier in Suid-Afrika nie. Dis nie iets snaaks om daar voorrymanne wat al byna 40 jaar oud is te sien speel nie,” sê Ferreira.

Maar toe die koronavirus ’n stokkie voor Ferreira se Franse planne steek, het hy besluit om ’n paar weke gelede saam met die OP te begin oefen.

Peter de Villiers, die OP se nuwe afrigterr, was baie beïndruk met Ferreira se fiksheid en werketiek.

“Ek het vir seker aan Schalk as ’n moontlike kaptein vir die OP gedink. Hy sou ’n groot aanwins vir ons gewees het,” sê De Villiers.

Daar was ook ’n moontlikheid dat Ferreira nie net as speler nie, maar ook as skrum-afrigter, by die OP gebruik sou word.

Die OP kon hom in hierdie stadium egter net ’n baie kort kontrak aanbied.

“Ek gun hom dit (die kontrak vir twee jaar met die Cheetahs). Dit gee hom meer standvastigheid. Mens kan nie in die pad staan van spelers nie,” sê De Villiers.

“Ons moet nou aanbeweeg. Waar hy as een man drie dinge tot die span kon voeg, moet ons nou drie ouens kry.”

Meer oor:  Oostelike Provinsie  |  Schalk Ferreira  |  Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.