Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
VLEUEL-TURKSVY:
Strydros Pietersen kry dalk ’n tweede Bok-asem

JP Pietersen kan ná ’n afwesigheid van langer as 17 maande sy terugkeer tot die Springbok-span in die Rugbykampioenskap maak.

JP Pietersen

Hy is die gunsteling om die beseerde Sbu Nkosi op regtervleuel te vervang. Die Haaie het die week bevestig Nkosi het las van ’n ernstige enkelbesering. Hy kan enigiets van agt tot 12 weke uit wees.

Benut Pietersen sy kans teen spanne soos die All Blacks en die Wallabies, kan hy sy plek in die Wêreldbekergroep oopspeel.

Groot onsekerheid bestaan nog oor wie die Bokke se eerstekeuse-vleuelpaar is.

Aphiwe Dyantyi en Nkosi het met tye bemoedigende tekens in die toetsreeks teen Engeland getoon, maar is nog nie wêreldbrekers nie. Hul onervarendheid is byvoorbeeld op die verdediging deur die Engelse uitgewys en die All Blacks is juis die gevaarlikste span wanneer die bal punte toe gespeel word.

Die 32-jarige Pietersen het sy 70ste toets op 12 November 2016 op Twickenham teen Engeland gespeel. Hy het hom daarna by die Engelse klubspan Leicester Tigers aangesluit, voordat hy verlede jaar na die Franse klubspan Toulon geskuif het.

Hy het twee weke gelede weer saam met sy klubspan begin oefen.

Baie ondersteuners en kenners sal sê Pietersen se beste rugbyjare is verby. Hy sukkel selfs om gereeld Toulon se 23-tal te haal.

Dis egter nie net Nkosi se besering wat weer vir hom die Bok-deur laat oopswaai nie, maar Suid-Afrika se gebrek aan vleuels van werklike toetsgehalte.

Ná 2015 se Wêreldbeker was Ruan Combrinck een van min Bok-vleuels wat ’n mens opgewonde gemaak het. Beserings het sy internasionale loopbaan ontspoor, waarna hy lank met sy spelpeil gesukkel het. Hy begin nou eers weer soms soos ’n toetsvleuel speel.

Die ander vleuels wat kans gekry het, soos Raymond Rhule en Courtnall Skosan, het almal met bestendigheid gesukkel. Dillyn Leyds verdien dalk weer saam met iemand soos Makazole Mapimpi vorentoe ’n kans.

Pietersen het egter toetservaring wat die verowering van die Wêreldbeker in 2007, ’n reekssege oor die Britse en Ierse Leeus en die wen van die Drienasiesbeker in 2009 insluit. Geen ander Suid-Afrikaanse vleuel wat nog rugby speel, het in soveel toetse as Pietersen gespeel nie.

Hy het ook grootte (106 kg) en lengte (1,90 m) aan sy kant. ’n Mens kan ook nie ’n toets onthou waarin hy kleigetrap het nie. Hy geniet die groot verhoog en het homself al as aanvaller, verdediger én lugspeler bewys.

As die Bokke daarin slaag om sy kondisionering op toetsgehalte te kry, en hy wys nog die nodige honger vir die Bok-trui, maak sy ouderdom nie saak nie.

Meer oor:  Springbokke  |  Jp Pietersen  |  Sbu Nkosi  |  Rugbykampioenskap  |  Terugkeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.