Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Strydros Whitehead terug vir GW

Die ervare losskakel George Whitehead keer terug na die rugbyveld wanneer Griekwas sy seisoen met ’n “oefenwedstryd” teen die Griffons begin.

Dié twee spanne pak mekaar Vrydag in Kimberley in wat Scott Mathie, afrigter van die Poubloues, nie as ’n wedstryd beskryf nie, maar as ’n kragmeting wat uit drie dele van 30 minute elk sal bestaan.

George Whitehead sal Vrydag sy terugkeer tot die rugbyveld maak. Foto: Gallo Images

Weens beserings was Whitehead (32) verlede seisoen bittermin op die rugbyveld.

In November het hy sy hand gebreek tydens ’n oefening. Hy was skaars terug op die veld toe hy in Maart sy sleutelbeen teen die Stormers gebreek het.

Ondersteuners van die Noord-Kapenaars sal bly wees dat Whitehead, wat reeds in 2009 sy provinsiale buiging gemaak het toe hy vir die Cheetahs uitgedraf het, van sy besering herstel het.

Tussen Whitehead, Tinus de Beer en die nuweling Fiela Boshoff sal daar goeie mededinging om Griekwas se nr. 10-trui wees.

Mathie sê dat hy tevrede is met wat hy tot dusver op die oefenveld sien ter voorbereiding van die Curriebeker-reeks wat na verwagting in Junie begin.

Hy onderstreep dat hy Vrydag se aksie met arendsoë gaan dophou.

“Die ouens oefen hard en vir my is dit belangrik dat ons in die oefenwedstryde samehorigheid in die span sien.

“Ek wil graag hê dat ons ons spelpatroon kan uitvoer en ’n spanpoging op die verdediging. Laastens wil ek hê die spelers moet werksetiek op die veld wys,” sê Mathie.

“Ek wil nie hê die spelers moet individualisties speel nie, ek wil eerder sien watter spelers vertoon goed in die span se strukture.”

Vir Scott Mathie, afrigter van Griekwas, is ’n spanpoging Vrydag teen die Griffons belangrik. Foto: Gallo Images

Griekwas sal aanstaande week teen die Luiperds in ’n oefenwedstryd speel en dan word nog ’n kragmeting vir 4 Junie beplan.

Vir Griekwas is vanjaar se Curriebeker-seisoen ’n gulde geleentheid om soos in 2019 die uitspeelrondes van die reeks te haal.

Die besoek van die Britse en Ierse Leeus beteken dat spanne soos die Bulle en Haaie heelparty spelers gaan hê wat vir die Springbokke diens doen.

Die Pretorianers en Durbaniete se groter begrotings beteken dat hulle heelwat diepte het, ook sonder hul eerstekeuse-spelers, en dit hou ’n bedreiging vir die ander spanne in.

Maar in Kimberley is ’n klomp uitgehongerde spelers soos Stefan Ungerer (skrumskakel), Gideon van der Merwe, Carl Els en Ruan Steenkamp (almal losvoorspelers) wat min motivering nodig sal hê om ’n grote, soos die Bulle, se ondergang te help bewerkstellig.

Meer oor:  Kimberley  |  Scott Mathie  |  Griffons  |  Griekwas  |  Rugby  |  George Whitehead
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.