Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie kan soos in 2005 met voorrye woeker

Dit was totaal ongehoord, ’n nuwigheid wat rugbykenners se oë laat rek het.

Maar dit het só goed gewerk, dat selfs Jake White destyds gereken het dit was Rassie Erasmus se stutplan wat die Vrystaat gehelp het om die Blou Bulle op Loftus Versfeld in die Curriebeker-eindstryd te skok.

Die gevreesde vyftal. Rassie Erasmus het as Vrystaat-afrigter in 2005 vyf stutte, CJ van der Linde, Jannie du Plessis, Ollie le Roux, Os du Randt en Wian du Preez, in sy 22-tal vir die Curriebeker-eindstryd teen die Blou Bulle ingesluit. Dié stutplan het skitterend gewerk en die Vrystaat het die Curriebeker vir die eerste keer sedert 1976 gewen. Foto: Gallo Images

In 2005 het ’n 33-jarige Erasmus vyf stutte – Wian du Preez en Jannie du Plessis in die beginspan, met Ollie le Roux, Os du Randt en CJ van der Linde op die bank – in sy Vrystaatse 22-tal vir die Curriebeker-eindstryd gekies.

Die uiteinde was die Vrystaat se eerste Curriebeker-titel sedert 1976.

Jake White, wat toe nog die Springbok-afrigter was, het gesê dit was die “Rassie-faktor” wat die Ligbloues se ondergang was.

“Rassie was takties uitstekend. Dit was ’n goeie plan om vyf stutte teen die Bulle se sterk voorspelers te kies,” het White destyds gesê.

Draai die horlosie 14 jaar vorentoe en nou staan Erasmus voor sy eerste Wêreldbeker-toernooi as Bok-breier ... en hy het miskien weer ’n stut-meesterplan wat van hom die eerste Bok-breier sedert White in 2007 kan maak om die Webb Ellis-trofee te lig.

Erasmus, wie se taktiese ingesteldheid sedert 2005 slegs toegeneem het, het vanjaar twee ewe indrukwekkende voorrykombinasies ingespan. Dit is moeilik om te sê of die kombinasie van Beast Mtawarira, Bongi Mbonambi en Trevor Nyakane, of Steven Kitshoff, Malcolm Marx en Frans Malherbe, die voorkeur-voorry is.

Trevor Nyakane en Beast Mtawarira deel ’n ligte oomblik tydens ’n Bok-oefening vroeër vanjaar in Wellington. Foto: Getty Images

Erasmus sit met die luukse dat hy sy voorrye kan afwissel en sodoende almal vars kan hou.

’n Lid van die voorry-vyftal van 2005, die voormalige Bok-loskopstut Wian du Preez, sê dit maak nie eintlik saak wie begin en wie sien die wedstryd vanaf die plaasvervangersbank uit nie.

“Rassie het sekerlik ’n plan,” sê Du Preez.

“Jy kon in die Rugbykampioenskap sien hy kies sy voorrye in kombinasies. Beast, Bongi en Trevor is een kombinasie en Kitsie, Marx en Frans Malherbe die ander.

“Dit maak nie saak watter een van daardie twee voorrye begin en watter een op die bank sit nie. Al die voorrye is baie dinamies.”

Frans Malherbe en Steven Kitshoff verlede jaar teen Skotland in aksie. Foto: Gallo Images

Sommige stutte sukkel om hul stempel as plaasvervangers af te druk – hulle kan eenvoudig nie die speltempo versnel nie. Nie een van die Bok-stutte het daardie probleem nie, sê Du Preez.

“Gewoonlik kan ’n mens sien wie moet begin en wie moet op die bank sit, want soms maak ’n speler nie ’n impak van die bank af nie.

“Maar al hierdie ouens maak ’n impak met hul vermoë om soos flanke balle te steel, of goed te verdedig, of die bal te dra.

“Ek dink ook hulle verstaan hul rolle. As hulle begin, moet hulle die teenstanders sag maak. As hulle van die bank af opgestuur word, moet hulle die wedstryd huis toe vat.

Rassie het die beste ouens saamgevat, die voorrye wie se spelpeil goed is.
Wian du Preez

“Hulle kan almal enige van daardie twee rolle vertolk.”

Erasmus kan dus afwissel wie begin en wie sit op die bank, sonder om gehalte in te boet.

“Daardie ses, tesame met Vincent Koch en Schalk Brits, is voorrye van gehalte,” sê Du Preez.

“Rassie het die beste ouens saamgevat, die voorrye wie se spelpeil goed is.”

Net soos met die Gevreesde Vyftal in 2005, kan Erasmus se “stut-faktor” een van die Bokke se grootste wapens in Japan wees.

Meer oor:  Stutplan  |  Wian Du Preez  |  Bokke  |  Stutte  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.