Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dyantyi: ‘Suid-Afrika, ek is jammer’

Skokgolwe het gister deur SA rugby getrek toe bevestig is dat een van die Springbokhelde, Aphiwe Dyantyi, aan die vooraand van die aankondiging van die Wêreldbekergroep positief vir die gebruik van ’n verbode middel getoets is.

Dyantyi is op 14 Augustus 2019 deur die Suid-Afrikaanse Instituut teen Verbode Middels in Sport (Saids) ingelig dat ’n urinemonster wat hy op 2 Julie ingedien het, positief vir ’n verbode middel getoets het. Hy is tydens ’n Bok-oefenkamp getoets.

Aphiwe Dyantyi tydens verlede jaar se toets teen Engeland op Twickenham. Foto: Getty

“Ek ontken onvoorwaardelik dat ek ooit enige verbode middel doelbewus of nalatig gebruik het om my vertoning op die veld te verbeter. Ek glo in harde werk en eerlike spel. Ek het nog nooit verneuk nie en sal ook nooit nie,” het Dyantyi in ’n mediaverklaring gesê.

“Ons het gevra dat die B-monster getoets word en sal binne ’n paar weke terugvoer kry.”

Die Bokke se finale Wêreldbekergroep van 31 spelers word môre in Randburg aangekondig.

Die 24-jarige Dyantyi was verlede jaar Wêreldrugby se Deurbraak-speler van die Jaar en een van Rassie Erasmus se suksesverhale as Bokafrigter. Hy kon weens ’n dyspierbesering nog nie vanjaar in enige toetse speel nie.

“Ek wil by voorbaat verskoning vra aan al my spanmaats en die bestuur by die Leeus en Springbokke, my vriende en familie vir die negatiewe impak wat dié nuus op hul lewens sal hê.

“Persoonlik het rugby my die geleentheid gegee om nie net jong hoopvolle rugbyspelers nie, maar ook Suid Afrikaners van alle agtergronde, te inspireer. Dít is nie iets wat ek ligtelik opneem nie.

“Ek sou definitief nie die risiko loop om iets so dom te doen nie.

“Ek sal nou al my energie inspan om saam met my ondersteuningspan te werk om my onskuld te bewys. Ek sal nie verdere kommentaar lewer totdat daar verwikkelinge is wat dit noodsaaklik maak nie.”

Dyantyi het in sy mediaverklaring ook die volgende op rekord geplaas:

“Die teenwoordigheid van die verbode middel in my liggaam het as ’n geweldige skok gekom. Saam met my bestuurspan en die deskundiges wat hulle aangestel het, doen ons alles in ons vermoë om by die bron te kom en my onskuld te bewys.

“As ’n professionele sportman op nasionale en internasionale vlak word ek gereeld getoets. Ek is voor en ná hierdie toets weer getoets. Dit is deel van my werk en ons almal weet dat elke speler tussen twee en vier keer per jaar getoets word.

“Om enige verbode middel te gebruik, sal nie net onverantwoordelik wees en iets wat ek nooit sou doen nie, dit sou ook gevoelloos en dom wees. Ek het ’n dwelmtoets op 15 Junie 2019 ondergaan (net twee weke voor die toets op 2 Julie) en geen nadelige uitslag is bevind nie.”

Dyantyi het in ’n kort tydperk gewys hy is ’n rugbykunstenaar.

Sy rugbydroom het op Dale College begin. Hy het daarna rugby prysgegee voordat sy koshuismaats hom by die Universiteit van Johannesburg oorreed het om weer ’n rugbybal op te tel. Die res is geskiedenis. Hy is ’n drieëvraat van formaat.

Dyantyi het verlede jaar sy debuut vir die Bokke teen Engeland gemaak ná ’n skitterende Superreeks. Hy het in sy debuuttoets ’n drie gedruk toe die Bokke Engeland met 43-29 op Ellispark geklop het.

Hy het ook in die tweede en derde toetse van die toetsreeks drieë gedruk.

Hy het sover 13 keer vir die Bokke uitgedraf en ses drieë gedruk voordat hy verlede jaar in Monaco as Wêreldrugby se Deurbraak-speler van die Jaar aangewys is.

Die prys word gewoonlik aan die beste jong speler in internasionale rugby toegeken.

Dyantyi is nie die eerste Bok wat positief toets nie.

Johan Ackermann, wat deesdae Gloucester afrig, Chiliboy Ralepelle en Bjorn Basson is Bokke wat in die verlede positief getoets is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.