Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Suidsee-speler-stropery bereik ‘kookpunt’

Seilala Mapusua, voormalige senter van Samoa en London Irish, waarsku Wêreldrugby dat die frustrasie oor die deurlopende stropery van talent vanuit die Suidsee-eilande “kookpunt” bereik.

Hy maan Australië en Nieu-Seeland om voort te gaan om druk toe te pas vir die verslapping van reëls om spelers toe te laat om van oorsese klubs terug te keer om vir hul geboorteland uit te draf.

Seilala Mapusua meen Wêreldrugby besef nie die invloed wat ryk oorsese klubs het op die beperking van verkiesbare talent vir die Suidsee-eilandspanne nie. Foto: Getty Images

Rugby365 berig Mapusua, ’n lid van die Suidsee-eilande se spelersvereniging, meen die ongelyke speelveld waardeur kleiner rugbylande in die gesig gestaar word, is ’n groter kwessie as wat Wêreldrugby sou erken.

“Sake gaan dieselfde bly totdat ons daadwerklike veranderinge en beweging in die noorde sien,” sê Mapusua.

“Met 18% van die wêreld se beroepspelers van Suidsee-afkoms, is ons veronderstel om beter resultate by die Wêreldbekertoernooi te sien deur spanne soos Fidji, Samoa en Tonga.

“Maar ongelukkig, sedert Fidji in 2007, kon geen Suidsee-span die kwarteindronde haal nie en dit is kommerwekkend, aangesien ons oor ’n vyfde van die wêreld se beroepspelers beskik.”

Die Nieu-Seelandse Rugbyunie het in 2004 ’n voorstel gemaak om die reëls rondom kiesbaarheid te verslap, wat groter vryheid toelaat vir spelers om hul geboortelande of lande van herkoms te verteenwoordig. Maar die noordelike-halfrond-nasies het die skuld gekry dat die voorstel deur die mat geval het.

Mapusua het na Europa verhuis om sy inkomste te verbeter en verstaan waarom spelers aanbiedinge van ryk klubs aanvaar. Hulle word dan later verkiesbaar vir daardie nasies en is in meeste gevalle verlore vir die Suidsee-eilandspanne.

“Ek dink die woede is al lank daar,” sê hy.

“Ons bereik kookpunt. Ons sal aanhou doen wat ons kan as die spelersvereniging, maar ons het die ondersteuning van ons bure nodig; Nieu-Seeland en Australië moet ons help om ’n gelyke speelveld te vestig.”

Die kwessie oor verlore spelers vir Suidsee-eilandspanne sal weer eens uitgelig word wanneer Fidji, Samoa en Tonga hul groepe vir die rugbyskouspel in Japan aankondig.

Steve Jackson, Samoa se afrigter, het reeds erken daar is spelers wat sy groep sou maak, wat eerder besluit het om weens geldelike redes by hul Europese klubs aan te bly.

– Sportredaksie

Meer oor:  Toetsrugby  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.