Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Super-skuiwe: Wie’t beste kopies gemaak?

Die Superrugby-reeks trek vanjaar ’n nuwe baadjie aan met ’n vermindering in spanne en ’n nuwe formaat.

Wat egter nooit sal verander nie, is dat ’n span oor diepte moet beskik as hy sukses in dié uitmergelende kompetisie wil behaal.

Uitgeslape kontraktering in die voorseisoen is nodig om ’n span strategies te versterk én om seker te maak dat die spens vol genoeg is om onafwendbare beseringsterugslae in die loop van die reeks te bowe te kom.

Hier is ’n vinnige blik op die vernaamste skuiwe by Suid-Afrika se spanne, asook by ’n klompie van die Australasiese mededingers.

Jan Serfontein se besluit om in Frankryk te gaan speel, laat ’n groot leemte by die Bulle. Foto: Gallo Images

Bulle

Knap kopie: Marnitz Boshoff

Boshoff was voorheen by die Leeus en toe by Connacht in Ierland voordat hy hom verlede jaar by die Bulle aangesluit het. Hoewel hy nie die eerste keuse op losskakel sal wees nie, kan sy bestendigheid, ervaring en goeie skopvoet later in die reeks nog van groot waarde wees.

Grootste verlies: Jan Serfontein

Dié Bok-senter het besluit om sy loopbaan eerder in Frankryk voort te sit. ’n Mens kan nie help om te dink dat Serfontein sou gedy het onder John Mitchell se afrigting nie.

Ruan Ackermann se fisieke benadering sal in Johannesburg gemis word. Foto: Gallo Images

Leeus

Knap kopie: Willie Engelbrecht

Die Leeus het betreklik min inkopies in die voorseisoen gedoen, maar Engelbrecht kan dalk ’n openbaring wees.

Hy is ’n groot, sterk en atletiese losvoorspeler.

Grootste verlies: Ruan Ackermann

Ackermann was een van die mees onderskatte spelers in die Leeus se groep verlede jaar. Sy veelsydigheid, hy kan slot, flank en agtsteman speel, was ook ’n bate. Die Leeus sal sy fisieke benadering mis.

Haaie

Knap kopies: Robert du Preez en Makazole Mapimpi

Du Preez en Mapimpi sal vir die Haaie agterlangs die slaankrag gee wat die span dalk in vorige seisoene kortgekom het. Albei is dinamiese spelers wat vir hoër louere bestem is.

Grootste verliese: Die Haaie is die ervaring van voorslag-spelers soos Pat Lambie, Cobus Reinach en Jean Deysel kwyt.

Steven Kitshoff sal weer sy rugby vir die Stormers speel. Foto: Gallo Images

Stormers

Knap kopie: Steven Kitshoff

Die rooikop-breker sal weer die Stormers-trui aantrek nadat hy vir Bordeaux in Frankryk gespeel het. Kitshoff se deugde as loskopstut is welbekend en enige span in die wêreld sal hul voortande gee om hom te kan betrek. Daar kan ook uitgesien word na wat die voormalige Cheetahs-vleuel Sergeal Petersen in die Kaap gaan vermag.

Grootste verliese: Die Stormers gaan nog lang trane huil oor Robert du Preez, Cheslin Kolbe, Huw Jones en Juan de Jongh.

Australië:

Dié land se Superspanne is versterk met die terugkeer van ’n klompie gesoute Wallabies. Die flank David Pocock draf vir die Brumbies uit nadat hy sabbatsverlof geneem het verlede jaar; Will Genia het Stade Francais vir die Rebels verruil en Kurtley Beale draf weer vir die Waratahs uit nadat hy verlede jaar by die Wasps in Engeland was.

Nieu-Seeland:

Die diepte van dié land se rugby word verder getoets, met etlike groot name wat besluit het om hul heil oorsee te gaan vind.

Onder hulle tel Aaron Cruden (Montpellier), Tawera Kerr-Barlow (La Rochelle) en Malakai Fekitoa (Toulon).

Die deugde van Charlie Faumuina (Toulouse), Steven Luatua (Bristol), Rene Ranger (La Rochelle) en James Lowe (Leinster) sal ook gemis word.

Meer oor:  Ruan Ackermann  |  Haaie  |  Blou Bulle  |  Stormers  |  Jan Serfontein  |  Steven Kitshoff  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.