Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SuperSport byna klaar met ondersoek

’n Ondersoek wat SuperSport geloods het ná ’n brief waarin vier swart ontleders dié uitsaaier van onder meer rassisme, viktimisasie, inkomsteongelykheid en intimidasie aankla, is byna voltooi.

Xola Ntshinga is een van vier SuperSport-aanbieders wat glo ’n prokureursbrief aan dié uitsaaier gestuur het waarin hulle SuperSport van onder meer rassisme aankla. Foto: Gallo Images

Daar word ook betroubaar verneem dié brief, wat MVMT Attorneys namens Owen Nkumane, Xola Ntshinga, Kaunda Ntunja en Gcobani Bobo aan SuperSport gestuur het, is reeds laat in Mei aan SuperSport gerig.

Die brief is dus gestuur ná die Ashwin Willemse-voorval, waarin Willemse op 19 Mei die SuperSport-ateljee tydens ’n regstreekse uitsending verlaat het nadat hy sy medeontleders Nick Mallett en Naas Botha van neerhalende gedrag teenoor hom beskuldig het en ook na Mallett en Botha as spelers van die apartheidsera verwys het.

Dié brief het die rasseherrie wat die Willemse-voorval ontketen het, momentum gegee.

Die Sunday Times het die naweek berig Nkumane, Ntshinga, Ntunja en Bobo beweer in dié brief ook dat spesifieke rolle van ontleders “voorbehou is vir niewit kenners”. Hulle glo ook dat wit werknemers meer betaal word, terwyl daar van die swart aanbieders verwag word om meer werk te doen. Hulle moes ook al “openbare vernedering, beledigende taal en ander onwelvoeglike behandeling” trotseer.

Clinton van der Berg, woordvoerder van SuperSport, het bevestig dat hulle so ’n brief ontvang het.

“Die saak word ondersoek en die ondersoek is byna voltooi. SuperSport skakel regstreeks met die betrokke individue,” sê Van der Berg.

Nie Ntunja of Bobo wou by navraag kommentaar lewer oor dié brief nie.

“Ek het niks om daaroor te sê nie, SuperSport moet daaroor praat,” sê Bobo.

Owen Nkumane / Foto: Gallo Images

Sohini Rubykisoon, ’n direkteur by MVMT Attorneys, het by navraag gesê haar firma kan geen kommentaar lewer nie. Nkumane en Ntshinga se selfone was Maandagoggend af.

Die nuus van dié brief volg op Willemse se besluit om hom tot die gelykheidshof te wend nadat ’n onafhanklike ondersoek bevind het die bogenoemde voorval was nie deur rassisme deur Mallett en Botha gemotiveer nie. Dié ondersoek is deur adv. Vincent Maleka gedoen. Maleka het onderhoude met die betrokkenes gevoer, maar Willemse het besluit om nie aan dié ondersoek deel te neem nie. Nqobizitha Mlilo, Willemse se prokureur, het onder meer gesê Maleka se verslag is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Willemse hou vol dié voorval is wel in rassisme gewortel.

In Maleka se verslag word daar ook na e-posse verwys wat Mallett in 2016 aan Scott Seward, ’n uitvoerende regisseur van SuperSport, gestuur het. Daarin vra Mallett dat hy en Willemse eerder nie moet saamwerk nie.

“Ek dink hy (Willemse) praat nonsens, ons irriteer die hel uit mekaar en ons werksomgewing is gespanne en onplesierig,” het Mallett geskryf.

Mallett het gesê hy is baie gelukkig om saam met Bobo, Ntshinga, Breyton Paulse en Hanyani Shimange te werk, “want anders as Ashwin, respekteer ek hul rugbymenings en harde werk”.

Meer oor:  Ashwin Willemse  |  Supersport  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.